11
Sat, Jan

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mieliepap: ‘n stapelvoedsel vir die mense van Suid-Afrika. En maak nie saak saam met wie jy gesels nie, elkeen eet sy mieliepap op sy of haar eie manier: of dit nou saam ‘n lekker stukkie boerewors en ‘n uie-en-tamatie-sousie is of self ‘n krummelpap met ‘n bietjie melk en suiker, om pap te eet is om Suid-Afrikaans te wees.

Die Rustenburg Herald is tans besig met voorbereiding vir ‘n baie spesiale reeks van “sishebo”, resepte wat perfek gaan saam met pap en vleis: ‘n ietsie om seker te maak dat jou man of vrou (of selfs die kinders) nie die All Gold-tamatiesousbottel moet byderhand hou om hul daaglikse pap te geniet nie. Ons het vier baie spesiale kosse in gedagte vir die komende weke se “Rustenburg Herald raak die klits kwyt” maar toe wonder ons ook: weet almal hoe om daardie perfekte pot pap te maak?

Ja, almal van ons het al iewers (by ‘n braai of Sondagmiddag-familiebyeenkoms) ‘n lekker pot pap gemaak. Maar wat van die van ons wat nie krummelpap kan maak nie? En selfs ‘n lekker stywe pap is soms meer ‘n kuns as iets so maklik soos volg die resep. En dan is daar ook die vraag: is dit waar dat sodra jy pap wat brand ruik dit beteken dat jou pap reg is?

Hopelik kan die Rustenburg Herald hierdie week saam met kollega Jabulani Senyatso, ‘n staatmaker wanneer dit by pap voorberei kom, ‘n paar van hierdie vrae antwoord. Jabulani wys vir ons hoe maak mens ‘n lekker stywe pap en dan is daar ook ‘n spesiale pap-tert resep vir diegene wat lus is vir iets meer...

Krummelpap

Bestanddele:

375 ml water
5 ml sout
300 g mieliemeel

Metode

Kook die water en die sout in ‘n kastrol, gooi die mieliemeel stadig by sodat dit ophoop en die water rondom kook. Moet dit nie roer nie! Sit die kastrol se deksel op en kook 10 tot 15 minute stadig sonder om die deksel oop te maak. Na die tyd, klop dit goed met ‘n groot vurk en sit die deksel terug. Laat verder oor baie lae hitte gaar word (vir ongeveer 1 uur).

Stywe-pap

Bestanddele:

1 lt water
4 koppies mieliemeel
1 stukkie botter
1/4 teelepel sout

Metode

Kook die water, sout en botter. Gooi die mieliemeel stadig by terwyl jy dit met ‘n houtlepel roer. Maak die deksel toe en roer dan net elke 10 minute met die houtlepel. Verminder die hitte en laat die pap vir 30 minute kook.

Pap tert

Bestanddele:

6 koppies mieliemeel
2 pakkies bacon, gesnipper
2 pakkies sampioene, gesny
2 blikke geroomde sampioene
2 blikke tamatie en uie
500 ml gerasperde kaas
500 ml room

Metode

Verhit die oond na 180˚C. Maak die pap slap tot styf gaar. Braai die bacon en sampioene saam. Pak lae van bestanddele soos volg: pap, bacon- en sampioen-mengsel, mielies, tamatie en uie. Herhaal die lae en eindig met ‘n pap laag. Strooi kaas oor en gooi daarna room oor die hele tert. Bak vir 20 tot 30 minute.