20
Mon, May

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

'n Klompie van ons manne gesels die ander dag om 'n braaivuur (hoe dan anders? - ja die laaste keer toe ons die rugby verloor het...). Almal stem saam dat almal weet hoe om vleis te braai. As jy in Suid-Afrika in enige geselskap moet erken dat jy nie kan vleis braai nie, is jy seker 'n Australiër? Maar ja, die manne erken toe dat amper nie een van hulle weet hoe om 'n lekker omelet te bak nie. Dink net hoe bly gaan ons Rustenburgers se vroue wees as ons die manne wys hoe 'n mens dit doen en sommer so tussen-in noem dat dit 'n heerlike ontbyt-in-die-bed-maaltyd is...? Ons het by Leon Snyman - uithalersjef van "The Chef's Table" restaurant in die Wall Street Mall gaan kers opsteek. Maklik man, en lekker - jy doen dit so:

Spaanse omelet a la Chef’s Table 

- ‘n vinnige en maklike alternatief vir quiches and ‘n ligte middagete of ontbyt.
Die bestanddele is nie beperk tot die ondervermelde items nie. Bestanddele soos spek kan met fyn gekapte kaasworsies, biltong, salami of gaar maalvleis vervang word. Groente kan vervang word met heel geelmielies, rooi en geel soetrissies, aspersiepunte, broccoli-florette en artisjokeharte gesny in blokkies. (Genoeg vir 3 tot 4 persone)

Bestanddele:
12 groot eiers
100 ml room
100 g gekookte aartappel in blokkies gesny
100 g spekblokkies
80 g songedroogte tamaties gekap/vars kersietamaties (100 g)
80 g soetrissie in blokkies gesny
80 g uie fyn gesny
100 g sampioene gesny in skywe
120 g cheddar kaas gerasper.
30 g botter
25 ml olyfolie
5 ml gemengde kruie (mixed herbs)
sout na smaak
vars gemaalde swartpeper.

Metode:
Verhit die oond tot 180 °C. Verhit die omelet-pan en braai spek tot bros en skep uit pan. Verhit die olyfolie and braai die uie, groenrissie, sampioene en songedroogte tamaties tot uie gaar is en verwyder van hitte.
Meng room en eiers goed saam met ‘n knippie sout en vars gemaalde swart peper. Verhit botter en olie tot mediumhitte, voeg eier- en roommengsel in die pan en bak stadig todat die bodem begin set.
Strooi die gebraaide spek- en uiemengsel eweredig bo-oor sonder om deur te roer. Strooi die gerasperde kaas en gemengde speserye bo-oor.
Bak in die oond vir ongeveer 5 tot 8 minute of tot die kaas gesmelt is of die eier gaar is.

Bedien met geroosterde Ciabatta en ‘n vars krakerige somerslaai.
Geniet die omelet met ‘n lekker yskoue glas Chardonnay of Chenin Blanc.
Bon Appetit! (Mammie of manlief sal jou voete soen... komaan man - bederf die familie!