20
Mon, May

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vra enigiemand waarvan die Skotte hou en jy sal waarskynlik dadelik hoor: Whisky, doedelsak-musiek, kort rokkies (vir die manne hoor!) lang baarde en snorre. Sou jy kon raai dat die Skotte skynbaar ook lief is vir eiers? Ja, ek weet darem nie of hierdie resep bedoel is om ‘n Skotse lekkerny te wees nie - ek het nie eers gedink die mense daar in ‘n yskoue Skotland sal hoegenaamd van eiers hou nie, maar so leer ‘n mens blykbaar... 
Om die een of ander rede staan hierdie heerlike happie as Skotse eiers bekend - waarom sou niemand seker kon sê nie. Maar as jy op ‘n Saterdagoggend, -middag of -aand met die een hand so oor jou maag vryf en by jouself dink dat jy nou werklik lus het vir iets wat ‘n mens nie aldag oor die toonbank kry nie, is die Skotse eiers ongetwyfeld ‘n uitstekende idee. Eloïse Erasmus en haar vriend Jean-Hendri Robbertse het die afgelope week ‘n tydjie ingeruim om Rustenburg Herald vir hierdie heerlike happie te nooi en terselfdertyd vir ons te wys hoe om dit volgende keer te maak - daar is min twyfel dat daar beslis ‘n “volgende keer” gaan wees...

Bestanddele
Gekookte eiers - nie te hard gekook nie want dit word hierna nog in olie gebak ook. Boerewors of varkwors in ongeveer 20cm- lengtes gesny (ons gebruik stukkies wors omdat dit sommer klaar “gekrul” is. Jy kan natuurlik ook jou eie mengsel maak met lekker fyngemaalde vleis en dit dan geur na jou smaak.
Olie om in te bak;
geklitste gegeurde eier (om in te rol);
gegeurde broodkrummels;

Metode
Dop die eiers af en haal die dermpie van die wors af. Rol die rou worsvleis in ‘n bolletjie en maak holtes in die middel vir die gekookte eier om mooi in te pas. Werk die worsvleis om die eiers en vorm dit in die vorm van ‘n groterig eier - amper soos ‘n “Paaseier” .
Rol die rou “vleiseier” in die gegeurde eiermengsel en dan in die krummels. Bak in olie tot gaar en goudbruin.

NS Moenie die olie te warm maak nie, want anders word die eiers te gou bruin en is dit binne dalk nog nie heeltemal gaar nie. Kan opgedien word as ‘n ligte Sondagaand- of naweek-ete met ‘n lekker groen slaai of op ‘n platterbord. Al te lekker!