08
Wed, Jan

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nou kyk, vandeesweek se "kook" sit nie sommer in enige ou se broek nie - ons huidige reeks se naam is nie verniet etnies/kultureel-tradisioneel nie. En nee, ons praat nie van die kok of sjef se broek nie - ons praat van die broek van die man of vrou wat die servet mooi styf by die boordjie gaan indruk en dan wegval aan 'n bord "so tradisioneel as wat jy kan kry" - gebakte mosterdtong! 
Ja, sommige mense sal dié "lekkerny" huiwerig opsy stoot en vir iets anders vra terwyl ander al geleer het dat van die lekkerste "goed" bo of onder die water in baie gevalle 'n bietjie buitengewoon is. Vir voorstanders van etnies/kultureel-tradisionele geregte kan ons egter kwalik iets beters as tong voorsit. Mev Orpa Boonzaaier - vir baie jare 'n inwoner van Rustenburg (behalwe vir die vinnige wegloop saam met Kleinboet Warmbad toe) en vir nog langer - iets soos 60 jaar 'n geesdriftige lid van die Vrouelandbou-unie - wys vandeesweek vir ons hoe om 'n absoluut heerlike gebakte mosterdtong te maak. 
Gebakte mosterdtong (bedien 6 persone)

Sous:

30 ml (2 eetlepels) olie
60 ml (¼ koppie) mosterdpoeier
125 ml (½ koppie) suiker
2 ml (½ teelepel) sout
250 ml (1 koppie) kookwater
250 ml Mayonnaise
sap van 1 suurlemoen
125 ml (½ wit druiwe-asyn)
30 ml (2 eetlepels) koekmeel

Tong:

Twee gaar tonge - vel afgetrek en in skywe gesny. 125 ml (½ koppie) sagte broodkrummels of 'n handvol "chips (ja, Simba) wat lekker fyn gedruk is - om die waarheid te sê, die "chips" werk eintlik beter - jy het tog altyd 'n pakkie in die huis en dan het jy nog 'n keuse tussen geure ook...).

Metode:

(Voorverhit jou oond tot 180°C).
Sous - meng die olie, mosterd, suiker en sout saam en klits die kookwater bietjie-vir-bietjie by. Klits die res van die bestanddele by.
Tong - pak die tongskywe in 'n oondvaste bak en giet die sous oor. Sprinkel die krummels oor en bak vir nagenoeg 45 minute in die oond tot die sous effens verdik het en die krummels mooi goudbruin is. Ons is doodseker jou gaste sal jou van harte komplimenteer en op nog 'n uitnodiging vir mosterdtong aandring om hul vriende aan hierdie wonderlike en dikwels onderskatte Suid-Afrikaanse lekkerny voor te stel.

Belangrik - jy hoef nie 'n wonderlike of uithalersjef te wees om vir Rustenburg Herald se "Raak die klits kwyt" te kwalifiseer nie - uiteindelik is dit die gasvryheid wat belangrik is en ja, ons hou ook van eenvoudige en maklike geregte. Nie almal het altyd baie tyd en/of geld nie. Ons nooi Rustenburgers en mense van die omgewing om ons met vrymoedigheid te nader - ons sit baie graag by jou aan tafel... Skakel Waldie Volschenk by (014) 592 8329 of skryf sommer 'n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.