20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Om Johann Ludick se skielike afsterwe verlede week as ‘n skok te beskryf, begin nie eens om die impak van sy dood te beskryf nie. Deur die afgelope paar jaar het Johann ‘n dierbare vriend geword en ook ‘n gewaardeerde medewerker van die Rustenburg Herald. Johann was een van daardie mense wat jou dag opgehelder het deur bloot te glimlag. Die ondeunde vonkel in sy oë was nooit te ver nie. Maar wanneer dit by kombuissake gekom het, was Johann ernstig en toegewyd. Jy kon op hom reken om altyd met iets nuuts, opwindends en treffend vorendag te kom. Die geregte wat hy vir Tambuti Kombuis voorberei het, was altyd uitsonderlik en het mense aan die praat – en aan die kook – gehad.  Wat ‘n voorreg om hierdie uitsonderlike mens te kon ken – al was dit vir so hopeloos te kort tydjie. Johann, jou menswees, jou vreugde en jou vriendelikheid sal ons almal wat met jou te doene gehad het bybly. Jou geliefdes en vriende is dankbaar vir die vele mooi herinneringe wat hulle van jou kan oorhou. Die groentelasagna wat ons dié week plaas, het Johann voorberei terwyl ek by hom gekuier het twee dae voor hy in die hospitaal opgeneem is. 

Bestanddele:
1 Groot ui, gesny
1 Knoffelhuisie, gekneus
1 rooi Soetrissie
1 Wortel, gesny en geblansjeer
Eiervrug, patty pans, sampioene (of groente van jou keuse), grof gesny
Handvol babaspinasie
Olyfolie
Sout, peper, komyn, neutmuskaat na smaak
Italiaanse kruiemengsel
1 houer gladde Maaskaas
1 blikkie tamatie-en-uiesmoor
Lasagnavelle
Gerasperde Cheddarkaas

Metode:
Braai die uie en knoffel in bietjie olyfolie in ‘n pan.
Voeg die geblansjeerde wortels, rooi soetrissie en babaspinasie by en roerbraai verder.
Geur liggies met sout en peper.
In ‘n aparte pan, roerbraai die sampioene, patty pans en eiervrug.
Geur met sout, peper, Italiaanse speserye, neutmuskaat en komyn.
In ‘n mengbak, plaas die maaskaas, tamatie-en-uiesmoor en knippie sout en peper en meng goed.
Bedek die bodem van ‘n oondbak met die maaskaasmengsel, gevolg deur ‘n lagie lasagnavelle.
Volg op met ‘n laag groente. Herhaal en eindig met ‘n maaskaaslaag.
Bedek mildelik met die gerasperde kaas.
Bak teen 180° vir sowat 30 minute.