20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Sjoe, maar is die lewe van vandag nie gejaagd nie? As ons kinders en jong volwassenes nie spook met skoolwerk of na-uurse aktiwiteie (wat nog te sê van eksamens?) nie, dan moet ons buitemuurse aktiwiteite natuurlik ook inval by ons besige lewenstyl. Eldunique du Plessis (16) van Mooinooi is ‘n jong model wat nie net hoop om opgang in die wêreld van die kollig te maak nie, maar oor naweke skuif sy sommer maklik agter die stuur van ‘n haastige versnel-renmotor in om nog rekords te probeer jaag.
Die afgelope naweek het Eldunique nog ‘n skoonheidstitel by haar modelprestasies gevoeg toe sy as algehele wenner van die Mej Buffelspoortkarnaval aangewys is.
Naweke egter is Eldunique saam met haar pa (Duppie) ‘n geesdriftige deelnemer aan motor-versnelrenne (waaroor ons binnekort meer gaan berig).
Vir hierdie uitgawe egter, skuif sy agter die kospotte in en ewe haastig maak sy ‘n heerlike potjie pasta met gesmelte kaas en ‘n mengelslaai wat nie te veel tyd in beslag neem nie, maar haar terselfdertyd genoeg krag gee om die pas van tuisonderrig, motorwedrenne en die loopplank vol te hou.

Tamatie en basillie Penne Pasta

Bestanddele:

500 g Penne Pasta
2 l water
Parmasaankaas
1 k gerasperde Cheddar-kaas
1 gekapte ui
500 ml tamatie- en basilliesous
5 ml olyfolie
500 g maalvleis
Sout en peper

Metode:

Kook die pasta in water tot sag. Braai die ui tot goudbruin, voeg die maalvleis by en braai tot lekker gaar en geurig. Voeg sout en peper by. Gooi die tamatie- en basilliesous by die gaar bestanddele en prut vir nog ‘n verdere vyf minute. Dreineer die gaar pasta en voeg dit by die maalvleis- en tamatiemengsel, roer goed deur en strooi ‘n mildelike klompie Parmasaan- en Cheddar-kaas bo-oor. Laat die kaas lekker smelt en stroperig raak. Bedien met ‘n varsgemaakte mengelslaai of as jy dit soos die Italianers verkies, los sommer al die bykosse en skep ‘n stewige porsie pasta in jou bord.