20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ons het in die verlede by geleentheid al die voorreg gehad om saam met ‘n regte Portugese familie om die tafel te sit en te smul aan die disse met gewoonlik ‘n “skerp” smaak waarvan dié mense hou. Vis is altyd in groot aanvraag onder die Portugese gemeenskap. Maar nie vandag nie.
Vandag kuier ons saam met Nina Chadinha, ‘n jong aspirant-modelletjie van R&B Models en Renay Beukes, eienaar van die agentskap en ‘n voormalige wenner van die Mej Rustenburg Herald-kompetisie in die kombuis terwyl daar vir ons ‘n eenvoudige maar gewilde Portugese gereg voorberei word.
Nina is dalk meer as ‘n aspirant-model - sy spog reeds op jong ouderdom met ‘n rits skoonheidstitels agter haar naam.
Sy was onder meer die algehele wenner van Miss Orange Blossom 2019, die Mej Boerenooi-kompetisie, Mej Mooinooi-titel en is ook pas gekroon as Mej Buffelspoort in die ouderdomsgroep 10 – 12 jaar. Maar terug na ons kos – Nina en Renay maak Portugese spaghetti…

Bestanddele:

1 ui
1 groenrissie
1 rooirissie
1 huisie knoffel
1 Chorizo-worsie
1 klein blikkie tamatiepasta
Spaghetti,
‘n ½ teelepel paprika
Sout en peper

Metode:

Kook ‘n potjie spaghetti in water tot sag en gaar en plaas eenkant. Braai die Chorizo-worsie, ui, rissies, knoffel, paprika en blikkie tamatiepasta saam vir ongeveer 2 min. Voeg die mengsel by die spaghetti en meng goed – roer deeglik deur. Geur met sout en peper en stowe al die bestanddele saam in die potjie vir nog sowat 5 minute – bedien terwyl dit warm is.