20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Toe ek ‘n kind was, was daar nie so iets soos gekoopte brood in ons huis nie.
Daar was ‘n bottel met aartappelsuurdeeg in die yskas – wat soos goud opgepas is – en Donderdagaande is die knieskottel uitgehaal. Na daar deeglik geknie is, is die knieskottel omtrent soos ‘n baba in ‘n spesiale kombers toegedraai. ‘n Warmwatersak is onder die skottel gesit om te verseker dat die deeg behoorlik rys. In De Aar se koue winters het my ma boonop ‘n ‘kenfroetbottel’vol kokende water gegooi, ‘n holte in die middel van die deeg gemaak en die bottel daar ingesit – vir ekstra motiverende hitte. Maar met sjef Pieter Germishuys se broodresep in jou besit, is jou lewe maklik. En lekker. Dié deeg is ook baie veelsydig. Jy kan ‘n doodgewone brood bak wat jy saam met enigiets kan geniet. Wat is dan nou lekkerder as ‘n sny brood, warm uit die oond, saam met ‘n koppie sop? Die deeg is egter ook in die kol vir Stromboli-rolletjies wat jy as ‘n voorgereg kan bedien. Sit net roomkaas en Parmaham by - ‘n wenner! Nog een van sjef Pieter se idees is om die deeg plat te rol, sirkels uit te druk en dit dan op mekaar te stapel met roomkaas tussen in en buite-om. “Rol dit dan in fyn biltong en jy het ‘n voorgereg waarvan almal sal praat,” belowe Pieter.

Bestanddele:
1kg koekmeelblom
1 x pakkie kitsgis
15ml suiker
15ml sout
25ml olie
Ongeveer 2 koppies louwarmwater

Metode:
Voorverhit jou oond tot 200°C.
Smeer of spuit jou broodpan of bakplaat met kleefwerende kossproei (of soos ons dit ken, Spray ‘n Cook)
1. Plaas jou meel in ‘n groot genoeg mengbak. (Onthou dit moet nog dubbel rys)
2. Voeg die gis, sout, suiker en olie by en meng.
3. Gooi die louwarmwater by en begin die deeg stadig meng en die meel en vloeistof inkorporeer. As jy in die begin sien jy kort nog water, voeg nog ‘n bietjie by.
4. Sprinkel ‘n klein bietjie koekmeel op die tafel, haal die deeg uit die bak en knie tot glad en elasties. Bedek met ‘n doek en plaas naby of in ‘n warm vertrek sodat deeg kan rys.
5. Sodra die deeg tot dubbel sy volume gerys het, knie dit weer af.
NB: As jy wil Stromboli maak, rol die deeg dun uit in ‘n reghoek.
Smeer met Basil Pesto, Sweet Chillisous of enige sous van jou keuse
Daarna voeg jy enige bestanddele by waarvan jy hou. Rol dit styf op soos ‘n rolkoek en sny in gelyke skywe.
Plaas op die bakpapier en laat dit rys tot dubbel in grootte. Daarna sit jy dit in die oond en bak dit vir ongeveer 10 minute tot gaar. (Jy kan toets as dit gaar is deur ‘n tandestokkie in die brood in te druk. As dit skoon uitkom dan is dit gaar.)