20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As daar nou een gereg is wat ongetwyfeld in die meeste lande ter wêreld ‘n stapelvoedsel is (of minstens dan behoort te wees) is dit die immergewilde “oop- of toebroodjie”. Ons almal weet dat miljoene mense op Moeder Aarde elke dag van meel- en soortgelyke graansoorte vir hul oorlewing afhanklik is. ‘n Mens kan nie help om te wonder hoeveel van hierdie graansoorte uiteindelik in broodvorm op honderdduisende tafels voorgesit word nie…

‘n Mens hoor dikwels die uitdrukking: “As ek elke dag net brood (en darem ‘n ietsie daarby seker?) moet eet, sal jy my nooit hoor kla nie. Die skrywer hier sal hom maklik met dié belydenis vereenselwig. Ai – ‘n lekker broodjie is nou maar eenmaal nie te versmaai nie en val nie net in omtrent almal se smaak nie, maar pas boonop uitstekend by enigeen se sak. En moenie glo nie – brood kan ook ‘n baie gesonde happie wees – of jy nou net “brood” in die middel van jou toebroodjie het of gelukkig genoeg is om ‘n “begin-van-die-maand-toebroodjie” te kan bekostig.

Goed, genoeg gesê – kom ons werp ons brood op die water en vertel vir ons lesers van ‘n broodjie en bypassende vulsels wat so smaaklik, keurig, bekostigbaar en gesond is dat dit enige feestelike geleentheid sal komplimenteer…
Rebecca Nhlapo is ‘n kantoorassistent by ‘n bekende onderneming wat haar sout dubbel-en-dwars werd is. Nie net is Rebecca bekwaam en vriendelik wanneer die baas met sy vuis op die tafel slaan en die onmoontlike verwag nie, maar Rebecca kan ook ewe gemaklik in die kombuis regstaan indien vername gaste/kliënte onverwags opdaag en die etensuur noodgedwonge die enigste ongeskeduleerde tyd op hande is. As mnr Baas dalk ‘n broodjie kan “spaar” sal Rebecca seker maak dat die etensuur-afspraak allermins in ‘n verleentheid eindig…
Kook ‘n klompie eiers vir ongeveer vier minute en plaas dit dadelik daarna in koue water om af te koel. Moenie afdop voordat die eiers goed afgekoel het nie. Sny die eiers in halwes (volgens die lengte) en haal die gele uit. Plaas in ‘n bakkie en maak fyn met ‘n vurk. Maak ‘n blikkie tuna oop – gooi die vloeistof af en skud uit in ‘n tweede bakkie. Voeg die volgende bestanddele by die bakkie tuna en die bakkie fyngemaakte eiergele: (Onthou – twee keer soveel by die tuna as die by eiergele…)

1 groot teelepel mayonnaise;  
2 groot teelepels “sour cream & chives”-slaaisous;
‘n takkie fyngekapte pietersielie en sout en peper;

Meng ‘n bietjie pietersielie by die eiergele in en strooi die res oor die tunamengsel nadat dit op die broodjies geskep is. Sit ook ‘n bietjie gerasperde kaas by die eiergele nadat dit in die halwe eierwitte teruggeskep is.
Rangskik die volgende op ‘n skinkbord: Enige broodjies van jou keuse – gerooster of vars en gesmeer met die tunamengsel, dan ook halwe eiers, vars slaaiblare, klein tamaties, grasuie, gesnyde komkommer en koue vleis wat met volgraan-mosterd gesmeer is, mooi opgerol is en met ‘n stokkie vasgesteek is. Jou skinkbord met broodjies, halwe eiers en die res soos hierbo lyk nie net watertand-lekker nie – maar smaak absoluut vorentoe! – Dankie Rebecca!