21
Thu, Nov

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Toe ek nog 'n klein seuntjie was, het die toneel van 'n klompie skaapwagters wat in die donker nag styf teen mekaar by 'n wintervuur sit, altyd by my opgekom wanneer daar van herderspastei gepraat word. Seker maar die Bybelverhaal van die skaapwagters in die oop veld net buite Bethlehem wat 'n mens altyd sal bybly...
Vandeesweek het dit weer gebeur toe ons hoor dat Rustenburg Herald se "Raak die 'klits' kwyt" by Johan en Hannelie Naudé van die Plaashuiskombuis by Jack Rabbitt in Kremetartlaan gaan aansit. Ons was gelukkig dat die herderspastei pas uit die oond gekom het toe ons daar aanland. Johan en Hannelie is die afgelope rapsie meer as twee maande aan die stuur van sake in die Plaashuiskombuis waar gereelde of nuwe gaste op 'n heerlike en uiteenlopende spyskaart getrakteer word. Jack Rabbitt is eintlik bekend as 'n lekker kuierplek waar die jonges en jonges van gees die lyfies kan swaai en hul gunstelingdrankie kan geniet. Maar moenie 'n fout maak nie - Johan en Hannelie se spyskaart is keurig saamgestel en jy hoef regtig nie by die toonbank te gaan sit en saam met die ander lawaaiwater te drink om die Plaashuiskombuis se heerlike maaltye te geniet nie. 
Johan het ons beloof dat ons sal "terugkom" vir sy herderspastei - ons het twee keer geskep en dit kan nie net aan die yskoue weer toegeskryf word nie.
Die Plaashuiskombuis se herderspastei word só gemaak: 

Geurige Herderspastei:

1 kg maalvleis;
2 gekapte uie;
4 eetlepels olyfolie;
2 koppies bevrore groente;
2 teelepels knoffel;
2 eetlepels Bisto;
1 teelepel gemengde kruie;
2 teelepels Origanum;
60 ml tamatiesous;
sout en peper na smaak;
2 pakkies Royco Herderspastei-sous (Cottage Pie - opsioneel);

Bestanddele vir kapokaartappels:

8 medium tot groot aartappels;
2 koppies gerasperde Cheddarkaas;
2 teelepels bakpoeier;
1 koppie melk;
2 eetlepels botter;

Metode (vulsel)

Braai die uie en knoffel.
Voeg die maalvleis by en braai tot mooi bruin.
Voeg die sout en peper asook die res van die speserye en sous by en kook vir nog 30 minute tot mooi gaar. 

Kapokaartappels: 

Kook aartappels tot gaar en sag in soutwater. Maak die aartappels fyn en meng die botter daarby in. Voeg die bakpoeier by die melk en klop tot dit skuim en roer vinnig by aartappels in om dit heerlik donserig te maak.
Skep nou van die kapokaartappels in 'n oondpan, maak mooi gelyk en strooi 'n bietjie kaas bo-oor. Vul die pan nou met die maalvleis- en groentevulsel en dan weer met nog 'n laag kapokaartappels. Strooi 'n goeie handjievol kaas bo-oor.
Plaas in die oond en bak vir nog sowat 15 tot 20 minute tot mooi goudbruin. 

Onthou - eerskomende Sondag is Vadersdag! Die Plaashuiskombuis vier dié okkasie op behoorlike wyse met hoenderboudjies, knoffelaartappels, frikkadelle en "spicy rice".
Dit word bedien met lekker karamelwortels en groenboontjies - waar kan jy nog so 'n ete geniet vir slegs R70? Vir R25 ekstra kan jy regmaak vir jou middagslapie met 'n malva- of sago-poeding...
Besprekings is essensieel - skakel Johan by 072 015 5909 of Hannelie by 072 146 7799.
Komaan - ondersteun die Plaashuiskombuis en kom bederf die man of pa in jou lewe....