20
Mon, May

'Braaivleis'
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Christelle Wessels

AGRI-PULSE – VRYBURG – Boerewors is al vir dekades ‘n Suid-Afrikaanse staatmaker.  Op die braai, in die oond of in ‘n pan op die stoof, daardie vermenging van kruie en speserye saam met goeie gehalte gemaalde vleis het nie sy gelyke in die hele, wye wêreld nie.

Só sal menige Suid-Afrikaner vir jou sê. Vra maar dié wat in die buiteland ook woon: Boerewors is een van die dinge wat hul huis toe laat verlang. Vir dié maand se Agri-Pulse het ons in die Strand gaan kuier waar oud-Vryburger, Stephan Wessels en sy gesin woon. Stephan het vir sy ma, die Afrikaanse fiksieskrywer - en óók voormalige Vryburger - Christelle Wessels, Boerewors ‘poppers’ voorberei. 
Die ‘poppers’ is geskoei op die idee van die baie gewilde ‘Jalapeño poppers’.  Die pikante gereg het ‘n lekker byt en is ‘n wenner as peuselhappie. Dit is blitsvinnig om voor te berei en jy het slegs vier bestanddele nodig. 
Vir Stephan se Boerewors ‘Poppers’ benodig jy:

Bestanddele: 
• Vars, rou boerewors, 
in 15cm stukke gesny 
(dikte na smaak)
• Jalapeño-stukkies
• 1 houer Roomkaas 
(Stephan het Spring onion & 
Chives gebruik, maar 
Sweet Chilli-roomkaas is ook ‘n goeie keuse)
• 500g Cheddarkaas, gerasper

Metode:
Sny die wors oop en maak ‘n holte met ‘n teelepel. Vul met stukkies Jalapeño.
Sit roomkaas bo-oor.
Strooi kaas oor.
Pak op rooster of – belangrik – oondbak met ‘n draadrak. Jy wil nie die wors in sy eie sous laat kook nie; dit moet braai.
Bak tot die wors na smaak gaar is en die kaas deeglik gesmelt het.
Laat effens afkoel en bederf jou gaste.