20
Mon, May

'Braaivleis'
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Sjoe - die feesgety is darem maar ‘n tyd van oorvloed en oordadigheid. Op spesiale geleenthede soos Kersfees en Nuwejaar is dit mos nou maar ‘n ou Suid-Afrikaanse en internasionale tradisie dat daar vir ‘n vale om kreunende tafels gekuier word terwyl die glasies hoog gelig word. En is dit nie ‘n paradoks om op te merk dat hoe moeiliker die jaar agter die rug - hoe voller die tafels en hoe hoer die glasies nie? 
Ja, dit is nou maar eenmaal in die mens se aard dat hy hom nie maklik laat onderkry nie en dat joligheid en vrolikheid ‘n goeie manier is om van al (of van die meeste dan...) slegte dinge oor die afgelope jaar te vergeet. Net so met goeie dinge, daarom dat ‘n goeie jaar ook met oordadigheid gevier word en dat feesdae soos Kersfees en Nuwejaar ‘n tyd is wat nie maklik vergeet word nie. 
Maar kom ek wed jou jy kan amper nie eers die helfte van al die lekker eetgoed, resepte, spesialiteite en “delicatessen” (as ek dit nie mis het nie - oorspronklik ‘n Duitse woord?) rondom die feestelike tafels onthou nie. Wat nog te sê van skep en proe!
Vir die ouens wat vanjaar amper alles geproe het, het ons vandeesweek (hopelik) so ietwat van ‘n verrassing... 

Rudi en Yolandi van Dyk (eintlik |Rudi) spog met ‘n baie spesiale (geheime) resep vir sappige, geurige en heerlike varkribbetjie. En ja, Rudi is die eerste ou wat vra “waar in jou lewe het jy nou al so ‘n lekker varkrib geproe?” (sonder om hoegenaamd verwaand te klink. Miskien sal nie almal noodwendig saamstem nie, maar Rudi het beslis ‘n punt beet. Hierdie varkrib is ongetwyfeld iets spesiaal. Dit is sonder enige twyfel aan te bevole dat jy hierdie “geheime” resep van Rudi en Yolandi uitknip en in jou eie (geheime?) resepteboek plak. Trakteer jou vriende of skoonma volgende keer hiermee en jy sal beslis ‘n paar ekstra punte in jou “boek” hê... Rudi maak sy varkrib soos volg:

Bestanddele
800g (of meer) varkribbetjie; 
‘n halfkoppie tamatiesous;
1/3 koppie goeie soetrissiesous;
1/3 koppie “hot” soetrissiesous;
2 knoffelhuisies;
Dan ook ‘n paar handevol slaaiblare en ‘n stewige knoffelbroodjie;
‘n Avokado of twee;
Een of twee tamaties;
Soetmelk of Cheddar-kaas;

Metode
Die hoofbestanddeel is natuurlik die varkrib - daarom dat dit die meeste aandag kry. Sny jou varkrib in mooi groterige porsies - net soos jy meen jou gaste sal daarvan hou. Maak ‘n smaaklike marinade uit die twee soetrissiesouse, die tamatiesous en die knoffel. As jy of jou gaste nie van knoffel hou nie, kan jy dit uitlaat - die knoffel word nogtans aanbeveel...

Sorg dat jou braaivuur betyds aangesteek is en dat jou kole op die regte tyd gereed is. Braai jou ribbetjie op matige kole en smeer mildelik met jou marinadesous. Onthou - ‘n varkribbetjie word vinnig gaar - pasop vir oorgaar. Die vleis moet verkieslik nog lekker sappig wees. Smeer weer met die marinade wanneer die rib van die vuur gehaal word. Sit vroegtydig ‘n paar snytjies kaas op jou gesnyde knoffelbroodjie en laat lekker in warm oond smelt. Bedien effens warm saam met jou varkribbetjie. Maak ‘n heerlike slaaitjie met die avokado, tamaties en blaarslaai en laat elke gas vir homself skep - net soos by ‘n gewone braaivleis. Lekker eet en sê “gesondheid!”