20
Mon, May

pork
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Rustenburg Herald se Tambutikombuis het ‘n reputasie dat hier geregte opgetower word wat enige ete in ‘n ‘happening’ laat verander. En dié week s’n is geen uitsondering nie. Michelle van Dyk en haar seun, Marnus, is die twee voor die kospotte en hulle berei ‘n maaltyd voor wat jou mond gaan laat water. Die bestanddele is eenvoudig – ‘n paar goeie vriende, ‘n gesellige kombuis, ‘n drinkdingetjie van jou keuse en lekker kuier, en siedaar, kos is op die tafel! Michelle en Marnus maak vir ons ‘n maklike, maar smaaklike vark-en-aartappelgereg.

Varksteakgereg

Bestanddele:
8 medium Aartapels, geskil en gerasper

30ml Sonneblomolie
2 groot Pers-uie, gerasper
1 pakkie Robotsoetrissies (rooi,geel,groen), in repies gesny (Hou paar stukkies vir garnering)
6 x Knoffelhuisies, gekneus
1 kg Varkneksteaks
500g gerasperde Cheddarkaas
2 eetl ‘Whole Grain’ Mosterd
2 eetl Griekse Jogurt
2 eetl Mayonnaise
10g Pienk Sout
10g Peper
20g Shotgun Spice/ Texan Six Gun Spice

Metode:
Voorverhit oond tot 200°
Kook gerasperde aartappels vir 10-15 min in mikrogolfoond. Spoel af en dreineer goed.
Sny uie, knoffel en soetrissies en braai in n bietjie olie tot sag. Pak varkneksteaks op werksoppervlak, bedek met kleefpapier en slaan met vleishamer plat op albei kante. Strooi sout, peper en speserye albei kante en smeer goed in.
Smeer bakplaat met bietjie olie.
Druk oortollige water uit aartappels en plaas onder in die bakplaat en druk vas. Gooi uiemengsel bo-oor en druk plat. Plaas Varksteaks een vir een bo op die uiemengsel. Rasper kaas en voeg by die jogurt, Mayonnaise en mostert
Meng goed saam en skep in hopies bo-op vleis.
Versprei die mengsel egalig op die oppervlak om vleis te bedek. Garneer met soetrissies (wat oorgebly het)
Bak in oond vir ‘n uur en bedien met ‘n lekker slaai.

Variasie:
Maak ‘n pakkie Potato Bake van jou keuse aan en gooi oor aartappels voor die gereg oond toe gaan.
Jy kan ook stukkies varkspek bros braai en by die aartappels roer.