20
Mon, May

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

By Bergsig Akademie was daar vroeër vanjaar groot opwinding toe twee van die skool se gewildste leerders onderskeidelik as Mnr en Mej Bergsig aangewys is. Na dese het Nola Kruger en Zandre Schoeman nie veel bekendstelling nodig in die kringe waarin skoolkinders beweeg nie. Vandeesweek bewys die twee dat hulle ook in die kombuis bedrewe is en ‘n lekker geurige, ligte ete en ‘n soet eetdingetjie vir nagereg is geen probleem nie. Nie alles gaan deesdae oor kitskos nie en daar is tog nog baie individue uit die jonger generasie wat die waarde van ‘n gebalanseerde dieet besef. Oor die volgende twee weke gaan Nola en Zandre hulle resepte vir heerlike gebraaide soetrissie-hoenderborsies asook ‘n sensasionele Peppermint Crisp tert met ons deel. As jou kroos by die huis dalk nie so geesdriftig oor kosmaak is nie, wys vir hulle hierdie lekker pret- en kooksessie – wie weet – dalk is hier genoeg “vleis om die lyf” om jou spannetjie by die huis te inspireer? Vandeesweek spring ons weg met die gebraaide soetrissie-hoenderborsies en aanstaande week kom die watertand-tert aan die beurt. Dalk kan jy nog hierdie lekkerste-lekker tert gemaak kry voor die winterkoue in al sy felheid toeslaan.

Bestanddele:

1 pak hoenderborsies
2 eiers
1 pakkie broodkrummels
1 koppie fyngekapte Kellogs ontbytpap

Metode:

Klits eiers tot goed gemeng. Doop die hoenderborsies in die eier en direk daarna in die broodkrummels. Daarna rol jy dit in die fyngekapte Kellogs-ontbytpap. As die hoenderborsies klaar voorberei is, plaas vir sowat 20 minute in voorafverhitte oond teen 200 °C. Haal na 20 minute uit die oond en verf goed met die heerlike sous wat jy soos hieronder voorberei.

Sous vir Hoenderborsies:

2 eetlepels heuning
2 eetlepels Sweet & Sticky sous
1 teelepel sojasous
1 teelepel asyn
Metode:
Gooi ‘n bietjie paprikaspeserye by volgens smaak. Meng alles saam en wag tot hoender gaar is - sowat 20 minute - smeer aan beide kante van gebraaide hoenderborsies en bedien met slaai of bykossie van jou keuse! Heerlik saam met ‘n warm aartappelgereg of koue aartappelslaai!