21
Thu, Nov

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Twee koppe is beter as een lui die spreekword mos en wat is dan nou beter as twee susters of broers wat in die kombuis saamspan om ‘n heerlike maaltyd voor te berei? Maar ‘n mens moet net pasop dat jy nie in ‘n woordestrik beland nie – as jy jou in die Kaap bevind en dalk viskop-sop maak kan jy nog daarmee wegkom – maar o wee, pasop as jy hier in die hartjie van “Transvaal” dieselfde met hoender probeer – mense sal dalk die verkeerde afleiding maak as daar van hoederkop of wat-ook-al gepraat moet word…

Nouja, gelukkig weet Beverley Breytenbach en haar sus Vivian Wienand presies wat om met hoender in die kombuis te doen. Klein Loralee Breytenbach sit ook by en help om vir ons al die bestanddele en speserye aan te gee en te help dat ons genoeg inspirasie het terwyl Beverley en Vivian vir ons heerlike pasta- en roomhoender maak. Die resep lyk so:


Bestanddele:
8 tot 10 hoenderstukkies – verkieslik dytjies; 
1 fyngekapte soetrissie;
1 koppie water;
1 groterige houer room;
‘n halwe pak skulpie-pasta;
2 eetlepels paprika;
1 blokkie hoender-aftreksel;
2 eetlepels pietersielie;
1 pakkie sampioene;
sout en swartpeper;

Metode:
Braai jou hoenderdytjies in botter en paprika tot mooi bruin en voeg dan die soetrissie by. Voeg ‘n koppie water met die hoender-aftreksel by en kook hoender tot sag. Geur met sout en swartpeper soos en wanneer nodig.

Wanneer die hoender sag is, voeg jy die room, twee eetlepels pietersielie en sampioene by en smoor dit op ‘n lae hitte vir ‘n verdere vyf minute.