24
Fri, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vir Rustenburgers wat die afgelope week of wat op taamlik gereelde basis by die Rustenburg skou aangedoen het, was die keuse oor wat om vanmiddag of vanaand te eet nogal uiteenlopend. Met minstens vyf kosstalletjies by die skou was daar vir die meeste ma’s sekerlik iets na die gesin se smaak – al was dit dan sommer net kerrie-en-rys – wat inderwaarheid ‘n uitstekende keuse vir dié tyd van die jaar was!

Maar ‘n mens bly maar ‘n snaakse ding as dit by klere en kos kom. “Variety” is the spice of life” lui die Engelse spreekwoord mos en daarom kan te veel van ‘n goeie ding nooit goed wees nie. Vir ma’s wat nou opnuut wonder wat om by die huis vir die honger kinders en pa voor te sit, is hier ‘n maklik oplossing. Des te meer as ma dalk so gelukkig is om twee mooi opgeskote knape in die huis te hê wat nogal erg bedrewe agter die kospotte is. Nietemin – vir vandeesweek se “kook” sit ons aan tafel saam met twee neefs – Storm Doubell en Dylan Jonker – onderskeidelik 13 en 14 jaar oud – kan jy glo!

Bestanddele:
3 pakkies hoenderborsies; 
10 “wraps” (koop by jou kruidenier);
1 bottel soet & suur-sous;
‘n paar stukkies versnipperde blaarslaai; (nie te klein nie)
‘n handvol of wat gekapte tamatie; (nie te fyn nie);
1 komkommer;
1 bakkie gewone joghurt.

Metode:
Sny die hoenderborsies in repies en meng met heelwat soet & suur-sous. Braai dan in ‘n pan tot gaar. Plaas die “wraps” vir een minuut in die mikrogolfoond. Sny die blaarslaai groot genoeg – sny tamatie in taamlike klein blokkies en sny komkommer ook in repies. Skep ‘n stewige porsie joghurt en smeer mildelik aan die binnekant van jou “wrap”. Vul die “wrap” met ‘n skeppie of twee van bogenoemde bestanddele – rol of vou mooi soos jy daarvan hou en geniet ‘n absolute smaaksensasie!

Hierdie is werklik ‘n eenvoudige, maklike resep wat enigiemand kan baasraak. Ons oordryf werklik nie om te sê ‘n kind kan dit doen nie – Storm en Dylan het dit vir ons bewys. Komaan mammas – verras vir pa en die kroos met dié lekker happie. Of is dit dalk tyd dat die mans vir die verrassing sorg?