AgriPulse-Vryburg - “Voorkoms en geure speel `n groot rol, veral in die Deli-wêreld.
Mense stap daagliks by die deli verby, op soek na iets vir middagete, soms heel onwetend waarvoor hul eintlik lus is om te eet. Disse moet vir hulself praat. Die aanloklikste en kleurvolste disse is gewoonlik dié gewildste.”
Aan die woord is Vryburg-inwoner en Deli-toesighouer by Pick `n Pay Vryburg, Albert van der Merwe wat die maand `n heerlike Hoenderroerbraai vir AgriPulse voorberei.
Dié kosfanatikus vertel beskeie oor sy reis deur die land waar hy emmers vol kennis en ondervinding opgedoen het oor hoe om heerlike geregte voor te berei en te bedien.
Albert was voorheen ook `n voedsel kontroleerder by `n nasionale voedsel en klere kettinggroep in Jeffreysbaai.
Sy hart het egter terug verlang na die platteland en so het hy in Vryburg op geëindig, waar hy tans werk.
“Jy moet jou werk geniet, en ek geniet dit hier. Daar is konstant iets wat gemaak kan word. Iets nuut wat jy kan uittoets. Wat dit vir my so spesiaal maak is die feit dat ek heeltemal van die tyd vergeet. Die is `n plek waar ek myself kan uitleef en geniet, as ek weer kyk was dit al lankal tyd om huis toe te gaan,” vertel hy.
Sy raad aan ander kosliefhebbers is om altyd jou instinkte te volg en dit nooit te beperk deur na ander se metodes te luister nie.
Metode:
Hoenderborsies opgesny (een borsie per persoon)
Die hoeveelheid van die groente moet sowat twee keer meer wees as die hoender.
Sny rooi, groen en geel rissies in repies.
Rooi en wit koolslaai in repies
Rooi uie fyngekap.
Groente in repies gesny vir roerbraai
Knoffel (sowat eetlepel).
Breek solank spaghetti in pot met water. Laat kook tot halfgaar.
Moet nie sout en olie bygooi nie, dit verhoed dat die sous van die roerbraai nie lekker in die spaghetti intrek nie.
Braai spaghetti en hoender saam met canola of olyf olie en bietjie balsamiese asyn in `n pan vir 5 minute.
Roer gereeld tot hoender wit verkleur.
Voeg nou die repies groente by. Braai vir sowat 5minute.
Voeg die sampioene by en braai vir nog 5minute.
Die Pynappel stukke kan ook bygevoeg word saam met Hasty Tasty se soet en suur sous.
Braai vir nog so 2 minute en bedien
Om die video te sien wat tydens die kooksessie gemaak is, gaan loer gerus na http://bit.ly/2CTlTbA.