20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Almal behoort teen hierdie tyd al te weet – eerskomende Saterdag (24 September) is Nasionale Braaidag. Vir sekerlik loshande die meeste van ons is dit maar min of meer elke Saterdag of Sondag “nasionale braaidag” – so, geen lesse hier nodig nie nê?
Maar vir ons vriende wat naweek vir naweek voor die TV ontspan en meestal met ligte “tv-etes” oor die weg moet kom, nouja, as jy dalk nie so lief is vir ‘n braaivleisie dat jy letterlik nie vir naweke kan wag nie, dan moet die probleem seker maar by die sousie (of die kok) lê.

Omdat Suid-Afrikaners meestal nie geleer hoef te word hoe om vleis te braai nie en andersins lankal reeds weet wat hul gunstelingvleisie vir enige geleentheid is, het ons besluit om in hierdie “Raak die ‘klits’ kwyt” liewers ‘n nuwe marinade-resep aan die hand te doen – veral vir ons jagters wie se vrieskaste uiteraard hierdie tyd van die jaar propvol wildsvleis is. Ons weet mos maar dat wildsvleis meestal geneig is om aan die taaierige kant te wees en dit is soms baie moeilik om die veld se “wild” uit jou vleis te jaag…

Rustenburg Herald se “braaispan” het spesiaal met die oog op nasionale braaidag eerskomende Saterdag by Tielman en Madel Breedt laer getrek en met ‘n heerlike nuwe marinade kennis gemaak wat beloof om jou wildsvleis of wat jy ook al graag op die kole gooi in ‘n feesmaal op te tower. Ons besef daar is mense wat van hul braaivleis “a la natural” hou, maar as jy die dag ‘n wildsbokkie platgetrek het, kan dit net voordelig wees om die voordele van ‘n lekker sous of Marinade te ondersoek.

Onthou, die doel van ‘n spesiale wilsvleis-marinade is nie slegs om die vleis ‘n heerlike geur en smaak te gee nie, maar hoofsaaklik om jou wildssnit so sag soos die spreekwoordelike murg te maak.

Goed ja, ons moet ook darem sê dat effense “onenigheid” onder die Breedt-familie oor of ons resep paptert, aartappelgereg, koes-koes (cous-cous) of pap-en-vleis moes wees, ons uit konsensus by ‘n wildsvleismarinade laat eindig het, (wat ons uiteindelik saam met blesbokvleis gebraai het). Tielman en Madel maak hulle marinade só:

Wildsvleis-marinade (600 ml)
300 ml sonneblom-olie; 
100 ml bruinasyn;
2 eetlepels appelkooskonfyt;
2 eetlepels tamatiesous;
2 eetlepels witsuiker;
1 eetlepel bruinsuiker;
2 eetlepels Worcestersous;
2 eetlepels olyfolie;
2 eetlepels rooiwynasyn;
2 teelepels sout, “chives” en ander geurmiddels as jy wil;

Voeg alles bymekaar en skud of meng baie goed!

Gooi oor die wildsvleis en laat staan vir minstens twee ure. Eers dan is jou vleis gereed vir die kole. Onthou: Moenie jou vleis oorgaar maak nie, dan gaan jy beslis nie die heerlike geur en smaak van die marinade geniet nie.

Ons sê dankie aan Tielman, Madel, Madelé, Lelanie en die tweeling Tielman en Rassie Breedt wat bereid was om hul tyd, wildvleisie en heerlike Marinade-resep met ons te deel. En ja asseblief - geniet nasionale braaidag hierdie naweek met u familie!