20
Mon, May

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, ons moet bieg, daar was lanklaas 'n winter waarin ons so gelukkig was dat ons omtrent (minstens!) een keer per week vir 'n wildshappie so uit die hartjie van die jagveld kon aansit. Ander jare was ons maar te gelukkig as ons een of twee keer in die jagseisoen 'n stukkie wildsvleis kon geniet en meestal was ons trouens heel tevrede as die enigste wildbederfie in die vorm van 'n stukkie biltong was. Maar ja, ons is dankbaar vir hierdie wonderlike reeks kosmaak-artikels van ons waarin ons dikwels aan disse en smake voorgestel word waarmee ons nog nie noodwendig kennis gemaak het nie. 'n Mens is nooit te oud of te jonk om te leer nie.

Van jonk gepraat - 'n mens hoor al te dikwels mense wat ietwat negatief oor die jonger generasie of die nuwe geslag is. Hoewel daar in baie gevalle seker maar rede vir kommer is, is die kommer meestal ongegrond - ons was mos maar almal jonk. In hierdie week se kook raak ons opgewonde oor 'n klompie jonggetroue vroue se kosmaakvermoëns. Ons het gedink dit is 'n goeie plan as die finaliste van vanjaar se Mev Rustenburg-kompetisie vir ons wys wat hulle in die kombuis doen om hul mans se magies vol te hou... Onder leiding van een of twee staatsmakers in die groep - sit ons vandeesweek aan vir 'n rooibokpastei so uit die boonste rakke. 'n Mens is eintlik half verbaas om te sien hoe maklik dit is om 'n volwaardige spogpastei te maak.

Oor 'n week of wat sal ons vir 'n tweede ronde met die ander helfte finaliste van vanjaar se Mev Rustenburg-finaliste in die kombuis kuier. So hier gaan ons...

Die dames wat ons vandeeweek bederf, is Atalia Badenhorst, Gloria Nkwe, Karen Graham, Bianka Snyman, Jamie Steyn en Agatha Breytenbach. Die Rooibokpastei is 'n familieresep van Atalia - familie van haar het 'n stukkie grond in Hartbeesfontein se wêreld so Atalia is deeglik ingelig oor wat om met 'n lekker stukkies rooibokvleis te doen. Die klompie mevvroue doen dit so:

Bestanddele
1 kg wildsvleis vn jou keuse 
100 g vet in klein stukkies gesny
2 aartappels in klein blokkies gesny
1 ui - fyngekap
2 blikkies Koo of soortgelyke gemengde groente
15 ml koljander
25 ml naeltjies
15 ml sout
20 ml knoffel
Peper na smaak

Metode
1 pak Puff pastry-deeg - jy kan sommer by die kruidenier koop - as jy 'n voorstander is van tradisie - sal jy seker "deeglik" weet hoe om jou eie deeg aan te maak.

Plaas jou vleis, jou aartappels, ui en speserye in 'n drukkoker en kook todat die vleis mooi gaar en sag is. Verwyder alle bene uit die vleis. Voeg die blikkies gemengde groente by en kook stadig vir 'n verdere vyf minute.

Rol nou jou deeg mooi uit met 'n koekroller en voer jou oondbak met 'n lagie Puff pastry uit. Wanneer jou vleis voldoende afgekoel het, skep jy die vulsel in die oondbak. Maak die vulsel/beslag mooi gelyk of soos jou gesin dit verkies en rond dan die bokant mooi af met nog 'n goeie lagie van jou Puff pastry deeg. Dit lyk altyd lekkerder as jy 'n mooi patroon of so-iets in jou boonste deeglaag sny/kerf/vou. Verf dan met 'n kombuiskwassie 'n titseltjie gesmelte botter oor die boonste deeglagie en bak in die oond vir sowat 30 minute teen 180 °C of totdat die kors 'n pragtige goudbruin kleur het. Garneer met 'n klein bietjie pietersielie of nog beter - maak 'n lekker vars gemengde slaai en bedien saam.

Gesondheid op julle dames - ons sien uit na ons volgende kuier!