07
Tue, Jan

Venison meat
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

By Café Zest in Schröderstraat in Upington  kan jy by ‘n tafel gaan aansit met ‘n wye verskeidenheid gourmetdisse wat selfs die kieskeurigste smulpaap sy lippe sal laat aflek.
Die chef en eienaar, Roelof van Vuuren, delf sy inspirasie van regoor die wêreld en op eie bodem. Roelof glo dat jou oog die feesmaal lank voor jou smaaksintuie moet  ervaar en geniet.
So is dit ook met vandag se Springbokfillet “Marsala”. Marsala wyn kry sy naam van die streek van herkoms Marsala, naby Sicilië. Om die sous eie aan Upington te maak, gebruik Roelof die Oranjerivier se eie ORC Rooi Jerepigo. Roelof het meer as 20 jaar se ervaring in die kosbedryf. Hy het as kind begin kosmaak. So 20 jaar terug het hy gehelp met die uitleg van ‘n restaurant in Santon, Smith & Wollensky. Hy het die kombuis help ontwerp en toe begin om met resepte te eksprimenteer.  En die res, is soos hulle sê, geskiedenis.  Toe hy moeg word vir Johannesburg, het hy Upington toe getrek. So drie jaar terug het hy Café Zest oopgemaak en Upingtonners is hom ewig dankbaar. Sy gaste geniet hierdie interessante restaurant met ‘n opelug- en onderdak gedeelte. Die ten volle gelisensieerde restaurant het kapasiteit vir sowat 70 gaste op ‘n slag, so bespreek maar jou plekkie om telleurstelling te voorkom.. So, as jy jou geliefde wil bederf... Of indien jy ‘n sake-ete ingedagte het...
Café Zest is by Winkel 1 (ORI gebou) langs North West Motorcompany in Schroderstraat. Roelof kan geskakel word by 045 332 1413.

Bestandele:
Ongeveer 680gr Springbokfillet (gesny in 8 x 85gr stukke)
Vir die sous
50ml botter
Olyfolie (soos verlang)
150gr Bruin of wit sampioene dun gesny
1/2 koppie sterk aangemaakte hoenderaftreksel (Ina Paarman)
500ml  Rooi Jerepigo-wyn
Sout na smaak
Ander (Beslag om vleis te seël)
1/2 koppie koekmeel
50ml olie

Metode:
1.    Pak jou stukkies fillette 2 op ‘n slag uit op ‘n houtbord. Bedek met kleefplastiek. Gebruik n vleishamer en slaan dit dun. Pasop om nie te hard te slaan nie. Elke stuk moet ten minste so groot soos ‘n oop hand wees.
2.    Strooi die koekmeel op ‘n bord uit en druk jou plat lappies springbokvleis in die meel. Bedek albei kante goed. Dit sal help dat jou vleis sy vog hou en nie uitdroog nie en ook help met die verdikking van die sous.
3.    Verhit n lekker dikboompan. Bedek die bodem met genoeg olyfolie om die bodem net net te bedek. Gooi n teelepel gewone kookolie by. Dit verhoog die olie se rookpunt en sal help dat jou olyfolie nie vinnig rook (brand) nie.
4.    Seël jou vleisies vir nie langer as een minuut aan ‘n kant nie en haal uit om te rus in ‘n opskep bak.
5.    Gebruik dieselfde pan en voeg die botter en  sampioene by en braai liggies tot net gaar.
6.    Goei jou koppie jerepigo by en roer met ‘n houtspaan. Krap die bodem van jou pan met die houtspaan om al die geure in die pan te laat meng.
7.    Jy kan nou jou hoenderaftreksel ingoei en laat stadig laat prut tot jou sous verdik. Dit kan tot 5min neem. Sit nou jou lappies springbokvleis terug in die sous en skep sous oor sodat alle vleis bedek is. Laat vir 30 sek prut. Skep nou vleis met sous in opdienbak of skep klaar op die borde.
Bedien jou springbok met ‘n lekker groen slaai en ‘n glasie wyn van jou keuse. Verkieslik iets effe droog wat die dis sal komplimenteer.
WENK:  Laat lê jou heel stuk springbokfillet in karringmelk in die yaskas indien jy die wilde smaak bietjie wil tem.

Kliek  hier om 'n kort videogreep van ons kooksessie op AgriPulse te sien.