24
Fri, Jan

Baked Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In ons nuwe reeks oor gewilde tradisionele resepte in samewerking met die Platinastreek van die Vrouelandbou-unie, skep ons vandeesweek in die derde aflewering van dié reeks ons bordjies propvol “Outydse Melktert”. Die bekende tant Susan Loots van Modderfontein (sowat 20 kilometer vanaf Rustenburg op die Wigwam-pad) en haar getroue huishulp Lizzy Kheswa was in die kombuis agter die stoof.

Mense, ons hoef seker vir niemand in Suid-Afrika te vertel dat ‘n melktert ‘n lekker “ding” is nie, maar boeta, wag tot jy “outydse” melktert geproe het! Outydse melktert smaak heeltemal anders as “gewone” melktert en die gelukkige ou met ‘n porsie op sy bordjie, sal verskoon word as hy meen dat hy dalk iets anders as melktert op sy vurkie het. Geen mens by sy volle positiewe sal ooit sy neus vir melktert kan optrek nie, maar “outydse” melktert van Susan Loots is iets uit heeltemal ‘n ander wêreld.

Moet nou nie, terwyl u vandag die geleentheid het om die hande op ‘n werklik unieke resep te lê, die kans laat verbyglip nie. Ons het dames (en mans en trouens almal wat in bak en brou en kook belangstel) aangeraai om ‘n plakboek met hierdie spesiale reeks VLU-resepte te begin en vir die nageslag te bewaar. Jy sal nooit spyt wees nie as ‘n mens die gewone melktert en hierdie “outydse” melktert kan bak, kan jy jouself ongetwyfeld as ‘n bakker van formaat uitgee...

Susan vertel graag dat hierdie resep van haar ouma kom - “ouma” was ‘n skoondogter van president Paul Kruger en dit is nie te betwyfel dat hierdie resep een van haar gunstelinge was nie. “Dit was ‘n gesukkel om die resep by ouma af te neem. Ouma het nie juis geglo in geskrewe of opgetekende resepte nie. Terwyl sy eendag by geleentheid besig was om vir my moeder te verduidelik hoe om “Outydse” melktert te maak, was ek vining byderhand met die pen en papier en so ken ek die resep vandag nog...

Kors
6 eetlepels (hoogvol) meelblom 
1 eetlepel (hoogvol) botter
1 eetlepel vet (hoogvol - jy kan die vet met ‘n tweede eetlepel botter vervang...)
2 teelepels bakpoeier;
1 eetlepel suiker
‘n knippie sout.
Frummel alles deurmekaar en maak aan met 2 geklitste eiers.

Vulsel
6 koppies melk
1 koppie meelblom
1 eetlepel botter (hoogvol) - frummel bogenoemde drie bestanddele deurmekaar.
‘n Bietjie sout

Kook melk en roer meelmengsel in. Kook tot gaar. Haal van stoof af en voeg nog 1eetlepel botter by. Klits 5 eiers en voeg dit ook by. (Eers bietjie-vir-bietjie pap by eier todat die eier warm is. Voeg 1 koppie suiker by. Strooi suiker gemeng met pypkaneel oor nadat die pap in die rou kors gegooi is. Bak vir nagenoeg 25 minute in warm oond teen ongeveer 190°C. Laat effens afkoel en bedien louwarm saam met koffie of tee. Altyd lekker - warm of koud!