20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As jy vandag vinnig na hierdie gereelde “kook” geblaai het om te sien wie die mense is wat vandag weer iets lekkers vir ons opdis, mag hierdie dalk vir jou ‘n aangename verrassing wees. Maar voor jy wegval en lees, blaai eers na die binneblaaie van hierdie uitgawe vir die interessante artikel oor Janneman Vorster en Rourk Gladwin se Pizza op Wiele! Dit behoort jou min of meer op hoogte van sake te bring sodat jy die kloutjie mooi by die oor kan bring as jy oor die resep of dergliks wonder….

Vir hierdie uitgawe van “Raak die klits kwyt” maak Janneman en Rourk van Pizza Boys vir ons seker die gewildste van alle pizzas – ja, ‘n egte Hawaiian Pizza soos dit oral in die wêreld in die volksmond bekend staan. En ja, ‘n man moenie in die pad staan nie – die Pizza Boys se konsep is inderdaad ‘n spanpoging…

Bestanddele
200 g mozzarella-kaas; 
50 g tamatiepuree;
80 g ham in stukkies gesny;
80g pynappel in stukkies gesny;
200 g brooddeeg;

Metode
Berei al jou bestanddele vooraf voor sodat dit gereed is vir gebruik – dit is ‘n vinnige proses. Druk of rol jou deeg uit in ‘n sirkelvorm of as jy ‘n gewone oond gaan gebruik, rol dit gerus uit in ‘n vierkantige vorm.

Plaas 50 g van die tamatiepuree in die middel van die voorafbereide deeg en gebruik die bolkant van ‘n groterige lepel om die puree in sirkelvorminge bewegings (sirkels) oor die hele deeg uit te smeer. Onthou om nie wyer as so 1 cm vanaf die buitekant van die deegsirkel te gaan nie – ander loop jou puree maklik uit/oor. Probeer om taamlik vinnig te werk omdat jy nie jou deeg slapperig/stroperig wil maak nie.

Plaas al jou bestanddele op die deeg. Volgens die tradisionele metode sal ‘n mens eers die kaas op die pizza plaas, gevolg deur die verskillende lae van die verskeidenheid bestanddele, afhangende van watter tipe pizza jy maak natuurlik…

Maar dit is nie werklik nodig nie. Jy kan sommer al jou bestanddele in een “teug” op die pizzadeeg uitgooi en dit mooi uitsprei met dalk ‘n rapsie of wat ekstra kaas as jy daarvan hou. Jy kan ook lourierblare, basilliekruid of gedroogte origo byvoeg voordat jy jou pizza in die oond sit. Laasgenoemde sal die pizza ‘n heerlik-tradisionele smaak en wonderlike aroma gee.

Plaas jou pizza op ‘n bakplaat of oondrakkie wat effens met olyfolie besprinkel/gesmeer is. Plaas die pizza in die middel van die oond. Laat bak vir nagenoeg 15 minute teen matige temperatuur waarna dit gaar behoort te wees. ‘n Kors met ‘n goudbruin kleur sal vir jou ‘n aanduiding wees dat dit gereed is om bedien te word.

Verwyder uit die oond, sny in nagenoeg agt of tien ewegroot driehoekies (behalwe pa en boeta s’n) en bedien. Dit is dalk nie vreeslik opbeurend om te hoor nie, maar as jou pizza ten spyte van hierdie resep nie volmaak is nie, wel, gelukkig weet jy dan weerheen om te ry nê?