20
Mon, May

Bread
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Hier so teen die begin van Februarie is baie mense nog maar steeds versigtig vir enigiets wat soos lekker eetgoed of ‘n resep lyk – ja, die oordadigheid tydens die feesgety het veroorsaak dat baie van ons nou nog op dieet is.
Maar ‘n mens moet eet al is dit net klein en lig. Veral oor naweke is dit maklik om so ‘n bietjie op die kosmaak af te skeep en met ligter eetgoed oor die weg te kom.
Maar dit beteken nie dit moet verbeeldingloos of smaakloos wees nie. ‘n Ou gunsteling van ons – Mariana Paul – wys in hierdie uitgawe vir ons hoe om sommer baie gemaklik met die immergewilde botterbroodjies oor die weg te kom. Sy maak dit so: (Daar is twee weergawes vir die wat van ‘n groter verskeidenheid hou, of diegene wat alternatiewe bestanddele verkies).

Bestanddele:

2 koppies meel
4 teelepels bakpoeier
¼ teelepel sout
4 eetlepels strooisuiker
4 eetlepels botter
145 ml melk of suurroom of vars room

Metode:

Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Voeg die strooisuiker by. Vryf die botter in meelmengsel – dit moet min of meer lyk soos broodkrummels. Voeg nou die melk/vars room/suurroom by en meng met ‘n slaplemmes. Rol lekker dik uit - minstens so 25 mm sodat jou botterbroodjies lekker “hoog” is. Dit is mos maar geneig om baie bros te wees. Onthou om jou botterbroodjies met ‘n lagie geklitste eier te “verf” voor dit oond toe gaan - stel jou oond op 200°C en bak vir 12 tot 15 minute.

Alternatiewe resep met bruismeel (self raising flower):

2½ koppies bruismeel
1 teelepel bakpoeier
Knippie sout
1 eetlepel suiker of strooisuiker
40 g koue botter of margarien
1 koppie melk of karringmelk
1 geklitste eier

Metode:

Sif bruismeel, bakpoeier en sout saam. Voeg strooisuiker by. Vryf botter met die hand in meelmengsel dat dit sos broodkrummels lyk. Maak ‘n holte in die middel van die meel en gooi melk daarin. Meng met ‘n slaplemmes. Rol of druk so 25 mm dik uit. Druk broodjies met koekiedrukker uit. Verf die scones met ‘n lagie geklitste eier voor dit oond toe gaan. Bak teen 200°C vir 12 tot 15 minute – bedien met room, kaas lekker konfyt of as dit goed gaan met jou – gerasperde biltong!