19
Thu, Sep

Chilled Pudding
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Gereelde lesers van ons Raak die ‘klits’ kwyt” sal in alle waarskynlikheid ons opwinding deel oor die nuwe reeks kookartikels in samewerking met dames van die Vrouelandbou-unie se Platinastreek wat verlede week in die Herald begin het (hoe dan nou anders as met ‘n immergewilde lekkerny soos ‘n heerlike beesstertresep?)

Vandeesweek se sessie in die VLU-kombuis is ook ‘n treffer maar nee, hierdie week nie kos nie, maar baie gepas vir die hittegolf-toestande wat ons die afgelope klompie weke reeds beleef, sal hierdie lekker happie gewis lafenis bied. Ons kuier by Santie de Wet- tot onlangs nog van die Marikana-tak maar nou van die VLU se Volmoed-tak wat vir ons werklik iets unieks maak. Rustenburg Herald het die afgelope drie, tot vier jaar by heelparty geleenthede oor die Overvaal Protea- en Vrugteplaas teen die hange van die Magaliesberg neffens die Buffelspoortvallei geskryf. Daarom dat ons sonder huiwering kan sê dat Santie vir ons ‘n uiters unieke yskastert maak - ja werklik uniek - ‘n Bloubessie-yskastert waarteen die spreekwoordelike pot lensiesop nie ‘n kans staan nie - glo my! Santie se Bloubessie-yskastert lyk so:

Bestanddele
Stroop
250 g vars bloubessies (ja ons weet - en as dit vir jou soos vir baie ander feitlik ontmoontlik is om dit in die hande te kry - koop jy sommer ‘n blikkie ingelegde bloubessies by “Woolies” man...)
50 ml water
2 eetlepels suiker
1 eetlepel suurlemoensap

Met bogenoemde 4 bestanddele maak jy jou stroop aan (sien later in die metode);
Dan ook twee teelepels effens hoogvol mielieblom

Kors
1 pak tennisbeskuitjjies (fyn gemaak)
4 eetlepels botter;
2 eetlepels suiker;

Vulsel
1 houer geroomde (plain) maaskaas
1 blik (385 g) volroom-kondensmelk
4 eetlepels suurlemoensap
1 teelepel Vanielje-ekstrak (Vanilla Essens)
1 houer (250 ml) vars room
1 tot 2 teelpels gelatien geweek in ‘n ¼-koppie warm water.

Metode
Kors
Smelt botter en suiker saam. Druk tennisbeskuitjies fyn en meng met gesmelte botter en suiker. Druk vas in tertbord en sit in yskas.

Bessiestroop
Kook bloubessies, water en suiker saam oor stadige hitte terwyl jy aanhoudend roer vir nagenoeg 5 minute. Meng 2 teelepels mielieblom met bietjie water en roer in bessiemengsel en kook vir nog 2 minute terwyl aanhoudend geroer word. Haal van plaat af en roer 1 eetlepel suurlemoensap in en laat afkoel.

Vulsel
Smelt gelatien in kookwater en laat afkoel. Klop room styf. Roer suurlemoensap en vanilla-ekstrak by kondensmelk. Meng maaskaas by kondensmelkmengsel. Vou styfgeklopte room in mengsel.

Meng gesmelte afgekoelde gelatien by en gooi alles in ystertdop. Versier met vars bessies en afgekoelde stroop of net met die afgekoelde stroop. Plaas in yskas vir ongeveer 12 uur.

Die beste resultate word verkry as die tert ‘n dag voor die tyd gemaak word en in die yskas geplaas word. Onthou om volroom kondensmelk te gebruik. Haal uit net voor bedien word en geniet!