24
Fri, Jan

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Selfs die pessimiste onder ons sal seker instem dat die winter van 2011 nie meer baie lank kan wees nie en dat ons mense een van die mooi dae weer lekker om die somersvure gaan sit met die tafels wat kreun onder allerlei lekker Suid-Afrikaanse geregte en sommer net immergewilde gunstelinghappies soos sjokoladekoek, koeksisters en dies meer. 
Maar natuurlik, ons besef dat die winter eintlik die ideale tyd van die jaar is om maklik die hele dag deur te peusel en as daar ‘n ietsietjie in die kombuis is wat saam met die 11:00-tee of koffie geniet kan word, soveel te beter. Ons het onlangs ingeloer by iemand wat nogal goed vertroud is met die verskillende seisoene in verskillende wêreldstreke. 
Dia Visser – bestuurder van Rustenburg Travel, is al vir baie jare by die reisbedryf betrokke en was in die vroeë tagtigerjare selfs die eienaar van Rustenburg Travel. Of dit haar werklik “wêreldwys” gemaak het, weet ons nie, maar Dia weet ongetwyfeld hoe om ‘n absoluut heerlike Meringue-koek te bak. 
In hierdie uitgawe van “Raak die ‘klits’ kwyt”, maak Dia vir ons twee heerlike Meringue-skeppings – ‘n Pavlova en ‘n sjokolade meringue-koek…

Pavlova – bestanddele:

5 eierwitte (kamertemperatuur - maak ABSOLUUT seker dat daar geen eiergeel in is nie);
300 g strooisuiker;
½ teelepel vanilla;
Driekwart-teelepel witasyn of kremetart;
250 ml room;
1 x Pepermint Crisp-sjokolade (gerasper) of 1 blik ingelegte appelkooshalwes;

Metode:

Klits die wit van eiers styf, voeg vanilla en kremetart/asyn by en voeg dan lepel-vir-lepel die suiker by terwyl dit nog aanhoudend geklits word. Spuit “Spray & Cook” op ‘n bakplaat en skep die mengsel in ‘n sirkel daarop – so 5cm hoog. Maak die kante rond met ‘n slapmes en gelyk bo-op. Bak teen 120 °C vir 2 ure, sit dan die oond af en laat dit vir ‘n halfuur afkoel.
Haal versigtig van die bakplaat af en plaas in ‘n bord. Sny dit versigtig so 1½ cm van die kant af, sodat die middelste gedeelte effens insak.

Vulsel:
Klits kort voor bediening 250 g room styf tot dit punte vorm en voeg 1 tl vanilla en een tl suiker by. Smeer dit op Pavlova en strooi gerasperde Pepermint Crisp bo-oor. Vir variasie kan enige ingelegde vrugte of varsvrugte op die room gesit word.

Sjokolade meringue-koek
Gebruik weer dieselfde meringue-resep, maar roer 100 g gevlokte amandels liggies by na dit klaar geklits is. Verdeel nou die deeg in twee sirkels op twee bakplate ongeveer 3 cm hoog.

Vulsel – sjokolade-ganache:

200 g donkersjokolade in blokkies gebreek; 
250 ml room;
5ml (1 tl) koffiepoeier;

Versiering:

100g gekapte pistachio-neute;
Vars wit roosknoppe;
50 – 100g gesmelte sjokolade vir rose en sjokoladeblare;

Metode:

Voorverit die ooond en bak die twee lae meringue tot bros en droog – so twee ure teen 110 °C. Sit af en laat in oond afkoel.
Ganache 
Smelt die sjokolade saam met die helfte van die room en die koffie in die mikrogolfoond. Roer goed. Laat afkoel tot die ganache stewig en smeerbaar is. Klits die res van die room styf. Meng die helfte van die ganache met die room om sjokoladeroom te maak. 
Versiering – plaas een meeringuelaag op ‘n bord en smeer met lagie sjokoladeroom. Plaas die volgende laag bo-op. Smeer ganache bo-op en sprinkel neute oor. Druk roosknoppies liggies in gesmelte skokolade en laat droog word. Versier met roosknoppe en sjokoladeblare. 
Hoe om sjokoladeblare te maak: Smeer gesmelte sjokolade op agterkant van die gewaste roosblare en laat droog word. Trek die blare versigtig af, begin by die puntjie. Wenk: Maak die koek al die vorige dag. Dit kan ‘n week lank in die yskas gehou word.