20
Mon, May

Confection
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Heng, ons het nou die dag amper ons vingers afgeëet toe “Raak die ‘klits’ kwyt” genooi is vir ‘n baksessie met botterkoek-kolwyntjies en klapper-ys. Wat die sessie ‘n buitengewone en ons wil amper sê ‘n “historiese gebeurtenis” gemaak het (behalwe nou die “sugar rush” later die aand), was die feit dat nie minder nie as vier geslagte vir die bak-en-brou-sessie saam in die kombuis byeen was... 
“Alweer cup cakes” het ons gewonder toe ons ‘n rukkie later vir die bakkery op pad was na Julinda Horn se huis bo in die dorp. (Ons moet seker maar verswyg dat ons, ons só aan die klapper-ys en kolwyntjies vergryp het dat vroulief Cecilia my later die aand slegs met behulp van kalmeermiddels en allerlei ander preparate met albei voete in die bed kon kry?) 
Hoe dit ook al sy - die vier geslagte wat vir ‘n stukkie geskiedenis gesorg het, was tannie Leen van Zyl (84), Julinda Horn, haar pragtige dogter Michelle Leih en die tweejarige Julané Leih. 
Ons het begin met die klapper-ys wat eintlik baie makliker is as wat ‘n mens dink. Ons moet dalk net hier noem, ten spyte van die “sugar rush” later die aand, is Linda se klapper-ys nie naastenby so ‘bittersoet” as wat ‘n mens normaalweg teëkom nie, - seker maar hoekom ‘n mens so baie daarvan kan verorber dat jy later die aand met hemelhoë bloedsuiker sit...?)

Klapper-ys 

500gr versiersuiker
3 x 250ml klapper
1 blikkie kondensmelk
Pienk voedselkleursel

Metode:

Meng die versiersuiker en klapper in ‘n mengbak. Voeg die kondensmelk by en meng goed. Gebruik jou hande, dit is die maklikste. Druk die helfte van die mengsel in ‘n reghoekige glasbak. Voeg pienk voedselkleursel by die res van die mengsel en meng goed.
Druk die pienk laag bo-op die wit laag vas. Sny is blokkies. Haal die blokkies versigtig uit en plaas op koekrak om uit te droog.

Botterkoek-kolwyntjies:

125g botter
375 ml suiker
5ml vanieljegeursel
3 eiers
625ml koekmeelblom
20ml bakpoeier
2.5ml sout
200 ml melk

Metode:

Voorverhit die oond tot 180ºC. Klop botter met houtlepel en voeg suiker geleidelik by. Klop tot lig en romerig en voeg geursel by. Voeg eiers een-een by en klop deeglik na elke byvoeging. Sif koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en voeg dit al siftende beurtelings met melk by geroomde mengsel. Klop mengsel tot alles goed gemeng is en dit ‘n fluweelagtige voorkoms het. Moenie roer nie, maar klop. 
Skep beslag in kolwyntjie-papiertjies of in voorbereide gesmeerde kolwyntjiepannetjies. Bak 25 tot 35 minute lank. Laat afkoel. Versier koekies met versiersuiker en knip 1 malvalekker in 5 dele vir oulike stukkies versiering.