20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Natasha van Stade is ‘n Rustenburgse prokureur en mamma wat weet hoe om die leë kolletjies op die maag op ‘n heerlike manier vol te maak. Natasha trakteer ons vandeesweek op twee heerlike bederfies wat sy sommer in ‘n japtrap by die huis maak. Veral met haar tuisgemaakte marmalade sal rugby op tv (of enige ander program) nooit weer dieselfde wees nie. Dan is daar ook ‘n maklike resep vir verraderlik-lekker fritatas. Rustenburg Herald se kookspan het gekyk hoe sy dit maak.

 

 

Uie-, tamatie- en rissiemarmalade
Bestanddele:
50 ml olyfolie
1 kg rooi uie
750 g bruinsuiker
2 teelepels mosterdpoeier
3 eetlepels rooiwynasyn
2 eetlepels balsamiese asyn
½ teelepel rissievlokkies
Een halwe suurlemoen
2 fyngekapte (mediumgrootte) tamaties
Knippie sout of Aromat

Metode:
Halveer die uie en sny in fyn ringe. Braai in olie tot droog en sag gebraai (gebruik diep ysterpan/wok). Voeg die res van die bestanddele by en meng goed. Sit deksel op en laat prut vir 90 tot 120 minute op lae hitte tot suiker goed opgelos en sous stroperig en dik is. Roer gereeld. Toets: Skep ‘n teelepel marmalade op bordjie, as dit stol is die marmalade gereed om gebottel of bedien te word.
(Indien vir latere gebruik: Steriliseer 6 125 ml-glasbottels en deksels in oond of kook in water. Laat marmalade afkoel tot louwarm en bottel – maak flessies tot heel bo vol . Draai deksel styf toe en bêre onderstebo om goed te seel). Wonderlik saam met soutbeskuitjies en lekker sagte smeerkaas. Kiri, Melrose of jou gunsteling-smeerkaas is ideaal.

Mengelmoes Fritatas
Bestanddele:
1 fyngekapte kwart ui
2 teelepels mosterdpoeier
Peper en Aromat na smaak
2 eetlepels gemengde sade (sesame-, pampoen-, lyn-, sonneblom- en poppie-).
2 eetlepels gedroogte tamaties (fyngekap)
1 blikkie tuna (gedreineer) – kan ook vervang word met 100 g fyngekapte ham of gebraaide spek.
3 groot eiers
½ koppie volroommelk
½ koppie gerasperde Cheddarkaas (by die mengsel – Fetakaas opsioneel)
Koppie gerasperde Cheddarkaas om bo-op fritatas te strooi

Metode:
Voorverhit oond teen 180 °C. Spuit muffinpannetjie goed met Spray n Cook. Klits al die bestanddele goed saam of gebruik sommer ‘n handmodel “shaker” soos in ons voorbeeld. Vul die muffinpannetjie met mengsel – los ‘n klein spasietjie vir ‘n lagie kaas bo-op. Bak in oond vir 15 tot 20 minute tot gaar, gestol en tot kaas mooi gesmelt het. Bedien as ‘n southappie of maaltyd sodra afgekoel – dit is nog beter die volgende dag! Baie handig as heerlike happie by skool of werk.