20
Mon, May

Pastries
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die tertjies wat ons in vandeesweek vir ons mense "opdis" kom as't ware eintlik net 'n rapsie te laat. Dink net hoe lekker dit sou wees om so uit die diepkant van die leunstoel voor die TV tydens die baie opwindende rugbywedstryde in die wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroulief te roep om tog net vir 'n bietjie "sonskyn te sorg" en behaaglik nog 'n bietjie dieper agteroor te lê.

Die sonskyn waarvan ons praat is die naam van ons eetgoedjies - Juanita du Plessis (nee, nie die sangeres nie - die mooie!) en haar span by Tresé Haarsalon in Krugerstraat (Lea Engelbrecht, Marlene Coetzee en Monique Becker) maak vir ons al te lekker en maklike sonskyntertjies wat maar skaars vyf minute neem om voor te berei en binne 30 minute nadat dit in die oond gedruk is, kan jy maar opskep...

 

Jy benodig die volgende bestanddele (hierdie resep is genoeg vir vier persone)

olie
1 gekapte ui
'n halwe rooi- of geel-soetrissie - ook gekap
150 gram maalvleis
swartpeper en sout
kleefwerende sproei
'n blok/stuk fetakaas
1 rol blaardeeg - mooi ontdooi
'n halfkoppie cheddar-kaas gerasper
4 eiers
4 repies spek
4 glanskersies

Jy maak die tertjies so:

Voorverhit die oond tot by 180°C. Braai die uie, soetrisse en maalvleis vir 15 minute tot dit mooi gaar is - geur dan met sout en swartpeper. Spuit 4 holtes van 'n groot muffinpan met kleefwerende sproei. Sny die rol deeg in vier vierkante en plaas 'n vierkantdeeg in elke holte. Druk dit liggies in die holte vas sodat die 4 hoeke van die deeg na buite oorhang. Verdeel die vleismengsel tussen die vier deegholtes en verdeel ook die feta en die helfte van die gerasperde kaas tussen die holtes.

Breek dan 'n eier bo-oor elkeen. Bak dit vir vyf minute. Braai die spek gaar, maar nog sag en sny dan elke repie in die helfte. Haal die terties uit die oond. Die punte van die deeg moet nog sag wees. Sit 2 stukkies spek oorkruis bo-op elke tertjie en sprinkel die res van die kaas bo-oor. Vou die punte van die degie dan mooi toe en plaas 'n kersie in die middel. Bak die tertjies vir nog 10 tot 15 minute (afhangende van hoe sag jy die eier verkies) en sit dit dadelik voor. Lekker eet en mag die beste span wen!