24
Sun, Nov

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Johan Gerber se Bombay Sardyn blatjang was ‘n grendeltyd-koseksperiment wat heerlik uitgedraai het. Met ‘n blikkie sardientjies tower hy ‘n gastronomiese simfonie van smake op. Die verskillende soet-en-sout smake verweef met die geure van masala en koljander proe heerlik. Probeer gerus.

Deur Johan Gerber (bedien 2)

Voorbereidingstyd 15min

Bestanddele:
• 120g Sardyne in tamatiesous (as jy die in olie gebruik, dreineer die olie en voeg 1 eetlepel tamatiepuree by)
• ½ Eetlepel olyfolie
• ½ Ui in fyn blokkies gesny
• ½ Soetrissie in blokkies gesny
• ½ Eetlepel nat kerriepoeier of garam masala
• ½ Teelepel borrie
• 2 Lourier blare (as jou nat kerriepoeier nie reeds daarvan in het nie)
• 3 Eetlepels mango blatjang (Gewone Mrs Balls chutney werk net so goed)
• Handvol grof gekapte koljander blare. (dahnia)

Metode:
• Breek sardyne op in ‘n mengbak. Nie te fyn nie
• Gooi olyfolie in pan oor medium hitte. Braai die uie, soetrissie tot sag.
• Gooi die masala of nat kerriepoeier by en braai vir 10 sekondes.
• Voeg borrie en dadelik die sardyne by en meng. Borrie moet nie braai nie, dit word bitter.
• As dit goed verhit is, roer blatjang by. Oppas om sardyne nie te fyn te maak nie.
• As alles goed deur warm is gooi die gekapte koljander blare by en roer deur, en dit is gereed om bedien te word. Hou klein bietjie van koljander blare uit vir garnering.
• Bedien oor gekookte aartappel, gebraaide aartappel skywe of in popadum soos ek voorgesit het met vars (of geblikte) stukkie mango.
• Ideaal vir 'n vinnige ete vir twee of as 'n maklike voorgereg.
Wenk: Popadums word gewoonlik in diep olie gebraai. Dit is baie vinniger en gesonder om een op 'n slag in die mikrogolf te bak op hoog vir 30-40 sekondes.