20
Mon, May

Fish
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Braaivleis, biltong, soettand-nagereg, "koek of tert, dik" vriende-hoofgereg en sommer net bederfies tussen vriende en families... Dit is van die spesialiteite wat nou al amper sewe of agt jaar gereeld op die spyskaart is in Rustenburg Herald se weeklikse "Raak die 'klits' kwyt"-rubriek. Ons is die afgelope drie vier weke ver met ons nuwe reeks waarin eetgoed wat as etnies-kultureel-tradisioneel geklassifiseer word, smaakvol opgedis word.
Vandeesweek het ons 'n spesiale verrassing. Baie Rustenburgers weet nou al dat Kyknet se gefaamde Glam Guru - Hannon Bothma - nou al feitlik geruime tyd 'n "Rustenburger" is. Die werklikheid is dat Hannon se pa (Bottie) die afgelope paar jaar 'n inwoner van die Platinstad is en dat Hannon so gereeld as wat sy baie besige program toelaat, kom kuier en daarom dikwels in groot inkoopsentrums gesien word. Hannon se sus en haar manlief woon toevallig ook in Rustenburg en daarom dat die Bothmas besluit het dat pa Bottie sy silwerjare hier in Rustenburg in die skaduwees van die Magaliesberg kom geniet...

Maar ja, terug ons kook. Ons kuier hierdie week saam met Hannon en pa Bottie in hulle lapa en Hannon maak vir ons een van sy gunsteling-voorgeregte. Ons noem dit Hannon se Rich Man Poor Man-voorgereg! Dit is baie maklik en word sommer in 'n japtrap aanmekaar geslaan. Hannon verduidelik die resep sommer so uit die kop terwyl hy met die mes in die een hand en die glas in die ander kuier...

Hannon se Rich Man Poor Man-voorgereg
Vir albei weergawes het jy 'n silindervormpie nodig - omtrent so 55/60 cm hoog en die deursnee van die immergewilde blikkie "baked beans of wat ook al...

Vir die Poor Man s'n gebruik jy:
Appel

komkommer
'n blikkie tuna
Mayonnaise,
vir die garnering: pietersielie, oliegebraaide broskoekies/beskuitjies wat jy sommer by Woolies koop.

Metode:
Kap die appel en komkommer in fyn blokkies en meng goed. Meng met Mayonnaise en tuna. Smeer die vormpie met olyfolie sodat dit maklik van die vulsel afglip wanneer dit gevul is. Plaas die vormpie op 'n bord. Skep die groen mengsel binne-in die vormpie tot omtrent halfpad en druk mooi stewig vas. Skep dan die tunamengsel tot bo op en druk weer lekker styf met 'n lepeltjie vas. Garneer bo-op met jou broskoekies/beskuitjies en 'n tikkie pietersielie en skyfies komkommer en plaas in yskas vir 'n halfuur voordat jy die vormpie verwyder. Jy kan dit selfs 'n dag voor die tyd maak en in die yskas bêre.

Rich Man:
Vir jou "miljoenêrs-voorgereg gebruik jy:
avokado en komkommer fyngekap
'n stukkie gekapte rooi ui
gerookte salm - gekap
roomkaas

Metode:
Meng die avokado, rooi ui en komkommer en vul jou volgende vormpie daarmee tot weer omtrent halfpad. Druk goed vas met 'n lepeltjie (of as jou ma nie kyk nie, sommer met jou vingers..). Meng die salm en roomkaas, Skep bo-op die halfgevulde vormpie en druk lekker styf vas. Garneer weer met 'n stukkie oliegebraaide broskoekie/beskuitjie wat jy by Woolies koop - onthou ook 'n stukkie pietersielie en komkommer om dit mooi af te rond. Plaas in die yskas vir 'n halfuur voordat jy die vormpie laat afglip. Onthou om die vormpie voor die tyd deeglik met 'n bietjie olyfolie te smeer...

Hierdie absoluut heerlike Rich Man Poor Man-vooregereggies sit jy aan jou gaste voor pas nadat jy die vuur aangesteek het of jy bedien dit sommer net as 'n heerlike happie met 'n glasie wyn terwyl die skaapboud in die oond nog so 'n 50 minute het om te gaan. Lekker kuier!