20
Mon, May

Stew
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die reisigers onder ons se vlerke is nou al vir sowat 18 maande geknip. Maar daar is ook dié vir wie ‘n Mediterreense vakansie net ‘n droom is – en dalk sal bly.
Dit beteken nie dat jy nie wel ‘n stukkie Provinsiaalse lekkerte in jou eie kombuis kan skep nie. Die bobaas-sjef, Johann Ludick, eienaar van die bekroonde restaurant, Under the Cherry Blossom, gaan ons dié week wys hoe om ‘n egte bouillabaisse voor te berei.
Under the Cherry Blossom, in Frangipanistraat 42, Safarituine is pas bekroon as die ‘Best Fine Dining Experience North West’ deur die African Excellence Awards. Die restaurant spesialiseer in uitmuntendheid en beloof jou keer op keer ‘n eetervaring wat selfs die kieskeurigste smulpaap gelukkig sal hou.
Soos wat Johann se bouillabaisse tereg bewys. Bouillabaisse, ‘n gekompliseerde vissop, word beskou as een van die uitstal-items van Frans-Provinsiaalse cuisine. Alhoewel daar ‘n horde resepte vir die gereg in omloop is, word die resep wat in 1980 deur meester-sjefs in Marseille, Frankryk, bekragtig is, as die Ware Jakob beskou. Dit is dié resep wat Johann vandag met lesers deel.

Bestanddele:

Vir die sopbasis:
Olyfolie
500g Garnale (met dop aan)
1l Water
1 Loerierblaar
12 heel Swartpeperkorrels
1 Lemoen se skil
1 Ui, gesnipper
1 klein Vinkelbol (Fennel), fyn gesny
1 Selderyvinger, gesny
4 Knoffelbolle, gesny
2,5ml Sout
4 ryp Tamaties, velletjies en pitte verwyder, gesny
250ml witwyn
2 takkies vars Tiemie
2.5ml Saffraandraadjies
Vars gemaalde Swartpeper, na smaak

Metode:

Verhit die olyfolie in ‘n groot pan.
Voeg die garnale by en roerbraai vir sowat 5 minute.
Voeg die water, loerierblaar, peperkorrels en lemoenskil by en verhit tot pruttend.
Laat prut vir ongeveer 15 minute.
In ‘n ander pan, verhit olyfolie en voeg die vinkel, uie en seldery by. Braai liggies vir ongeveer 15 minute tot sag. Voeg die knoffel en die sout by en braai tot die knoffel sag is.
Voeg die tamatie, tiemie, wyn en saffraan by. Verhoog die hitte sodat die wyn begin kook. Kook totdat die wyn sowat 50% gereduseer het.
Skep die loerierblaar, peperkorrels en lemoenskil uit die garnaalmengsel. Verpulp die mengsel – doppe en al – met ‘n handmenger, druk dit deur ‘n fyn sif en voeg by die tamatie-en-wynmengsel. Geur met sout en peper.

Vir die seekos en aartappel:
350g ferm witvis (verkieslik kingklip), in blokkies gesny
400g mossels (in die dop)
500g groot Garnale (skoongemaak, maar met die dop op)
4 Aartappels, geskil en gekook
Sout en vars gemaalde Swartpeper
Vinkellobbe
400g Kreefstert
400g seekrap (mud crab)

Metode:

Verdeel die sop in vier verskillende panne.
(Jy kan egter ook alles saam in een groot pan kook)
4-pan-metode:
Verdeel die mossels en garnale tussen drie panne en kook tot net-net gaar.
Verhit die aartappels in die vierde pan en geur met sout en peper. 
Finale stap:
Voeg al die bestanddele bymekaar en meng liggies deur.
Bedien in sopbakkies en garneer met die vars vinkeldrade.