20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vandeesweek se uitgawe van Rustenburg Herald, benewens die feit dat dit die laaste van 2012 is, is ook ietwat geskiedkundig in die sin dat ons afskeid neem van die legendariese tant Ans van Zyl, iemand wat sonder twyfel diep spore in Rustenburg getrap het – om nie eens te praat van die mense op wie sy oor baie jare heen ‘n groot indruk gemaak het nie.
In hierdie laaste “kook” met Ans van Zyl, wil ons nie afskeidstrane stort nie – ons laat dit liefs vir ons Toeka (Uit Toeka se Dae elders in hierdie uitgawe) waar ons meer “formeel” van hierdie ystervrou van Rustenburg afskeid neem.

Vir oulaas dus (soos ons ouer garde gesê het) vergeet ons van die lewe se bitter en kies “ soetgoed vir die siel” a la Susan Coetzer en wat is nou beter vir ‘n afskeidsgroet as om saam met Ans in die kombuis te staan en appelkooskonfyt te kook? Rustenburgers sal dalk onthou dat tant Ans van Zyl vroeër vanjaar ‘n resepteboek (“Kom ons kook konfyt”) die lig laat sien het. Hierdie resep vir egte, tradisionele appelkooskonfyt, is een van talle hoogte-punte daaruit… Onthou – kies appelkose wat mooi geelryp is, groen appelkose sal na ‘n paar dae deel word, maar sal nie so geurig weesnie… Pap, ryp appelkose kook vinnig gaar en vertoon baie mooi in die fles. Jy benodig 2lb (910 gram) appelkose en 2lb (910 gram) suiker. Gooi suiker oor jou vrugte. Dryk fyn en meng. Sit op lou plaat en verhit stadig sodat al die suiker kan smelt. Roer voortdurend met houtlepel - ook aan die kante van die pot. Sit deksel op dat ‘n bietjie stoom kan vorm. Na ongeveer 15 minute sal ‘n geel skuim begin vorm. Haal die deksel af en sit plaat effens hoër. Druk die vrugte fyn met ‘n aartappeldrukker. Baie skuim sal na bo kook - skep gereeld die skuim af. 
Na sowat 20 minute sal die skuim begin minder word en die “jam” sal feitlik gereed wees om gebottel te word. As jy dit ‘n bietjie stywer wil hê, kan jy dit vir nog 4 minute langer kook. Wees versigtig, die “jam” kan maklik brand. Gebruik sommer ‘n gesteriliseerde soplepel om in die warm flesse te skep. Verseël en laat koud word voordat jy die bottel skoonmaak. 
‘n Spesiale soort appelkoos word gebruik om heel of halwe appelkooskonfyt te kook. Wanneer heel stukke konfyt gekook word, kook ons dit die eerste dag vir 15 minute met ‘n toe deksel. Die volgende dag word dit net aan die kook gemaak, dan word die deksel heeltemal afgehaal.