20
Mon, May

Jams & Dips
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Skuins aan die anderkant van die Magliesberge in die Derby-omgewing lê die plaas “Koperfontein” van oom Andries en tant Miem Esterhuizen. Hier het die legendariese oom Apie van Staden oor jare heen tonne vol geelperskes tot mampoer gestook en uiteindelik minstens drie keer die mampoerkoning van Suid-Afrika geword. En soos dit moet, gaan die tradisie voort. Een van wyle oom Apie se 12 kinders, tant Miem, is vandag in eie reg ‘n “mampoer-koningin” en is een van slegs twee, drie vroue in Suid-Afrika wat ten volle geslisensieerd en gekwalifiseerd is om topgehalte mampoer te stook.

Maar nee, tant Miem stook nie net mampoer nie, sy maak ook topgehalte konfyt en ingelegte vrugte. Besef u dat hierdie ewe-legendariese vrou op 76-jarige ouderdom tussen 20 November en 20 Desember (2012) nie minder nie as 2 000 botteltjies konfyt en ingelegte vrugte gekook het? Ons het die afgelope vakansie self die voorreg gehad om by tant Miem en oom Andries in te loer terwyl sy besig was om te kook en in te lê. Sy kook vandees-week vir ons perske-konfyt en rond dit af met ‘ n botteltjie ingelegte perskes…

Perskekonfyt:
Jy kan perskes of enige ander vrugte gebruik – die metode bly dieselfde. Gelyke dele vrugte en suiker. Berei u vrugte voor deur goed af te spoel, te skil indien nodig, te snipper of maal na gelang van die vrugte en hoe u dit verkies. Kook eers net die vrugte op baie lae hitte gaar – so op hulle eie. Onthou om deurlopend te roer om te voorkom dat dit aanbrand en seker te maak dat dit saggies gaar word. Nou voeg u die suiker by, roer steeds baie om seker te maak dat die suiker smelt en oplos. Dit moet vir nagenoeg twee ure kook. U toets die konfyt deur met ‘n metaallepeltjie ‘n bietjie konfyt uit die pot te skep en stadig terug in die pot te laat drup. Die laaste druppels moet omtrent net-net stol en soos ‘n pêrel-ogie lyk – dan is die konfyt gereed. Skep uit in gesteriliseerde bottels/flessies en laat afkoel voordat u dit toemaak.

Ingelegte perskes
Maak so: Neem twee dele water en een deel suiker vir die stroop – byvoorbeeld 4 liter water, 2kg suiker en kook saam vir die stroop. Laat kook vir ongeveer 8 tot 10 minute op sag.

Gebruik 5kg perskes, geskil, gesny en gewas, gooi by stroop, kook ongeveer 5 tot 10 mjinute na gelang van hoe sag die vrugte is. Toets met ‘n vurk of dit sag en gaar is. ‘n Geoefende oog sal weet dat die vrugte gereed is as dit effens begin “blink” Skep uit in gesteriliseerde bottels, maak stroop vol tot bo en maak warm toe en bêre in die spens tot die kinders en kleinkinders kom kuier.

Mense wat graag meer wil weet, ‘n konfytjie wil bestel of by tant Miem wil leer – skakel haar gerus by 083-566-1147. (Ons beplan binnekort ‘n artikel oor tant Miem en die geheime van haar mampoer – kom proe saam!)