20
Mon, May

Salads
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Is dit nie vreemd hoe die seisoene (en die reënweer) besig is om truuks op ons te trek nie? Verlede week nog wou ons hier in Rustenburg dood van die hitte en vir weke indien nie maande nie, kon ons nie wag dat die “regte” reën waarvan die Suid-Afrikaanse Weerdiens vroeër gepraat het, moet kom nie… Noudat party van ons feitlik klaar moed opgegee het dat vanjaar nie ‘n goeie reënjaar gaan wees nie en dat ons dalk nog tot diep in die winter gaan warm kry, is daar skielik ‘n lafenissie in die lug met ‘n ligte buitjie so elke nou en dan. Dit klink na ‘n lang storie maar dit is eintlik hoe ons by hierdie ligte, “koel” biltongslaai en ‘n sjokoladeverrassing uitgekom het. Nee wat, met die kwik so naby aan die rooi oor die afgelope maande, is die braaivleisvuur nie eintlik ‘n lekker plek nie. Sanet Goosen van die NG Kerk Proteapark en haar dogter (Lara – 12) span vandeesweek saam en het vir ons hierdie spyskaart saamgestel teen die agtergrond van die versengende hitte van die afgelope klompie maande. Miskien is hierdie naweek net die regte tyd om Sanet en Lara se spyskaart op die proef te stel – hulle maak dit so:

Biltongslaai (4 persone);
Bestanddele
2 koppies biltong;
Blaarslaai;
Klein tamaties (in die helfte gesny);
Feta-kaas;
1 koppie rooi, geel en groen soetrissies (in repies gesny);
1 avokado in skyfies gesny;
‘n handvol croutons;
Groen of swart olywe;
Ina Paarman-slaaisous;
Sout en peper na smaak.

Metode
Breek die slaaiblare in eetbare happies en pak dit op ‘n bord. Pak die skyfies avokado in ‘n mooi formasie bo-op die blaarslaai. Sny die klein tamaties en fetakaas in blokkies en pak dit bo-op die blaarslaai en avokadopeer. Gooi genoeg croutons bo-op.

Afhangende van smaak, gooi genoeg gekerfde biltong bo-op met genoeg slaaisous. ‘n Vinnige gesonde ete vir die gesin op ‘n lekker warm dag.

Lara se sjokoladeverrassing
Bestanddele
Sjokolade-kitspoeding aangemaak en verkoel;
Romany Creams (koekies – gekrummel);
‘n Blikkie kitsroom;
Gerasperde Peppermint Crisp;

Metode
Skep die gekrummelde Romany Creams onder in ‘n wynglas dat dit so ‘n derde van die glas vul. Sodra die sjokolade kitspoeding-gestol het, kan jy dit bo-op die gekrummelde Romany Creams in die wynglas skep – weer eens ‘n derde.
Spuit nou room bo-oor dat die laaste derde van die wynglas gevul word. Rasper van die Pepermint Crisp-skokolade bo-oor en sit ‘n kersie of ‘n mintblaar bo-op vir ‘n bietjie ekstra garnering. Al te heerlik en ‘n lekker happie as die kraaie daar buite gaap.