20
Mon, May

Sauces
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Vier weke later en die Rustenburg Herald eindig sy “Seshabo” reseptereeks met nog ‘n welbekende resep van die pap-en-sous familie: Chakalaka. Elke Suid-Afrikaner ken hierdie ene en terwyl party tevrede is met Chakalaka uit ‘n blikkie het ons besluit om hierdie maklike (maar steeds lekker) resep met ons lesers te deel.

Chakalaka is natuurlik een van daardie “seshabo” resepte wat soms bietjie van ‘n byt het en die groenrissie in hierdie resep gee ons Chakalaka presies dit. Party mense geniet iets effens meer “spicy” en sal dus geniet om dalk ‘n paar ekstra rissies in te sit. Aan hierdie mense sê ek: wanneer eet ons! Geniet jou Chakalaka saam met pap en vleis of selfs op ‘n lekker snytjie vars gebakte brood. Die Chakalaka kan ook in die yskas vir ‘n paar dae gestoor word en party mense sal sê sy smaak verbeter eintlik hoe langer hy staan. Rebecca Nhlapo van die Rustenburg Herald het haar Chakalaka-resep met die Rustenburg Herald en sy lesers hierdie week gedeel – ‘n wenresep vir enige braai.

Bestanddele:

1 pak groenboontjies, gekap en gekook
4 groot tamaties, in blokkies gesny
1 groot ui, gerasper
1 pakkie rooi-, geel- en groen-soetrissie, in blokkies gesny
2 teelepels matige kerriepoeier
2 groenrissies
1 pakkie Chakalaka-soppoeier
1/2 koppie koue water
2 teelepels olie 

Metode

Verhit die olie in ‘n pan en voeg dan die uie, soetrissie, kerrie, tamatie en groenrissies by. Roerbraai vir ‘n paar minute en voeg dan die groenboontjies by. Meng goed. Voeg dan die water en soppoeier by en kook dan totdat die mengsel effens dik word. Bedien saam met ‘n lekker pap of reis saam met jou gunsteling vleis.