20
Mon, May

Sauces
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Net waar 'n mens deesdae ry, sien jy stalletjies met mangoverkopers langs die pad - maak amper nie saak waarheen jy ry nie...
So ja, die mangotyd is in volle swang en benewens die heerlike smaak van vars mangos, is daar 'n "lekkerny" wat 'n mens met mangos maak wat beter is as omtrent enigiets van sy soort - ja, mangoblatjang!
Lana Theron het onlangs vir ons 'n paar botteltjies mangoblatjang gestuur en ons hier het omtrent ons vingers afgelek. Op 'n broodjie, saam met 'n vleisie, pasta, 'n lekker potjie wat wat ook al - daar's nie 'n dis of happie op Moeder Aarde wat nie beter smaak met 'n lepeltjie geurige blatjang nie -
so hoekom nie jou eie maak en jou "kook- of bakkuns" oor die algemeen 'n stewige hupstoot gee nie.
Die kinders (en pa) sal baie bly wees en in die proses sal jy waarskynlik 'n geldjie spaar, om van lekker eet nie te praat nie.

Goed ons weet, die bestanddele gaan jou 'n paar randjies uit die sak jaag, maar glo ons, jy en jou gaste gaan aan jou mangoblatjang smul lank nadat jy reeds 'n nuwe begroting opgestel het.
Lana se mangoblatjang word soos volg gemaak:



My nooi is in... ('n mango...)

Bestanddele:

2½ kg fyngekapte, groen, geskilde mangos. (Maak seker dat mangos mooi skoon gewas, geskil en ontpit is).
2½ kg fyngekapte uie
2 kg (of twee groot 900 g blikke) fyn appelkooskonfyt
5 eetlepels of 75 ml sout
25 ml fyn gemmer of 5 teelepelsvol
2 teelepelsvol (1 rooi middelslag rissie) - fyngekap, pitte verwyder. As jy nie van ‘n brandsmakie hou nie – gebruik dan dieselfde hoeveelheid soetrissies.
1½ bottel bruin asyn – (na smaak en volgens dikte van mengsel)
150 ml of 10 eetlepels mediumsterkte kerriepoeier (na smaak)
1½ (750g) sakkies sagte, klam bruinsuiker – (Muscovado - Woolies) 1 125g in totaal.


Metode:

Meng alles deeglik saam en kook vir minstens 2 ure of langer stadig todat alles sag en gaar is en mengsel taamlik dikkerig is - ‘n stewige tekstuur is ideaal..
Toets vir geur en smaak en bottel in skoongewaste en gesteriliseerde flessies/botteltjies. Laat afkoel en bottel wanneer nog effens warm is -
dit hoef nie glad nie in yskas gebêre te word totdat dit oopgemaak is nie. Hou daarna in yskas.