03
Mon, Jun

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Noudat dit vir ons lyk of ons tog vanjaar 'n bietjie reën gaan kry en of die uitmergelende hitte van die afgelope paar dae voorlopig iets van die verlede mag wees, was dit lekker om 'n baie tradisionele "boeregereg" nader te trek. Ons is tans besig met 'n reeks oor etnies/kulturele tradisionele geregte en daar is min twyfel dat bobotie (Boerebobotie) in Suid-Afrikaners se smaak val. Maar moenie 'n fout maak nie - bobotie is nie noodwendig tradisioneel Suid-Afrikaans nie - wat nog te sê van Afrikaans. Nee, bobotie in sy oorspronklike vorm is 'n Maleise gereg wat sommer baie by ons boerevolkie aanklank gevind het en vandag seker een van die gewildste geregte in ons land is.
Nouja, van reën gepraat - terwyl dit lyk of die reën nou enige tyd gaan uitsak en ons vir 'n wyle met 'n nuwe "asem" en geur gaan verfris, het ons by Nanette Robinson - die Platinastad se nuwe Mev Rustenburg gaan kuier. Nanette en haar ma (Nettie) het vir ons 'n regte Boerebobotie en geelrys voorberei - en dit sal 'n sonde wees as ons nalaat om te noem dat die twee (Nettie se resep) sekerlik die lekkerste weergawe is waaraan ons nog die voorreg gehad het om weg te val.

Nettie en Nanette maak hul bobotie so:

Bestanddele:

2 uie
kookolie of botter
1 kg maalvleis (skaap of beeslvleis)
1 sny brood
250 ml melk
2 eiers
15 ml kerriepoeier
22.5 ml suiker
10 ml sout
2.5 ml peper
7.5 ml borrie
30 ml asyn of sap van 1 suurlemoen
6 amandels in kwarte verdeel
125 ml pitlose rosyne
4 suurlemoenblare, lourierblare of die gerasperde skil van 1 suurlemoen
45 ml blatjang
rys en blatjang

Metode:

Voorvehit die oond tot 180°C. Skil die uie, sny in dun skywe en kerf dan fyn. Braai dit effens bruin in warm kookolie en as rou vleis gebruik word, braai die vleis saam met die uie tot net effens gaar. Week die brood in die melk, druk dan die melk uit en maak brood fyn. Meng al die bestanddele, behalwe 'n halfkoppie melk en 1 eier en die suurlemoenblare. 
Skep die mengsel in 'n gesmeerde oondbak, rol die blare effens op en steek dit regop in die mengsel in. Bak vir 'n uur lank as rou vleis gebruik word of sowat 45 minute as die maalvleis gaar is. Klop die oorblywende eier en 125 ml melk en giet oor die vleis 'n halfuur voor jy dit uithaal. Sit voor met lekker geelrys en 'n stewige skeppie blatjang en jy het 'n koningsmaal - enige tyd van die dag of nag!