10
Fri, Jan

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Om een of ander rede het dit ons opgeval dat 'n goeie tradisionele resep (en 'n egte stukkie kultuurerfenis) nog maar selde ons "Raak die 'klits' kwyt" gehaal het. Met die reënerige weer van die afgelope week of wat kon ons ons tyd waarskynlik nie 'n beter tyd gekies het om hieraan reg te laat geskied nie. Die resep wat ons vandeesweek vir u voorsit, is inderdaad feitlik volksbesit - 'n stukkie kultuur en geskiedenis en vir die afgelope bykans 30 jaar al 'n gewilde staatmaker in die Van Zyl-familie. 
Ouma Junie van Zyl het hierdie resep destyds in die Kook en Geniet raakgeloop en dit met die jare vervolmaak. 
Tradisioneel is dit gepas om 'n heerlike "sagte" piesangslaai saam met jou bobotie voor te sit.
Dit maak dinge baie lekker as jou bobotie soms 'n bietjie aan die warm kant is. Onthou dat al die resepte wat in ons "Raak die 'klits' kwyt" verskyn het, op ons webtuiste by www.rustenburgherald.co.za beskikbaar is. 
Maar nou is dit Bobotie-tyd! Ouma Junie maak dit so: 

Bestanddele:

2 uie in skywe gesny
olie
1½ kg maalvleis
1 knoffelhuisie
1½ eetlepels kerriepoeier
½ eetlepel borrie
½ eetlepel gerasperde suurlemoenskil
sap van 1 suurlemoen
4 eetlepels vrugteblatjang
1 koppie vars broodkrummels
witwyn of vleisekstrak
1 gerasperde appel
2 eetlepels fyn amandels
1 handvol rosyne

Afwerking
3 eetlepels appelkooskonfyt gemeng met bietjie suurlemoensap, piesangs en geblansjeerde amandels om bo-op te pak. 
1 koppie melk
2 groot eiers

Metode:

Braai die uieskwye in bietjie olie. Voeg die kerrie, borrie en maalvleis by, laat stadig braai.
Voeg die suurlemoenskil, suurlemoensap-, broodkrummels, appel, sout en peper by en laat vir ongeveer 30 minute braai.
Voeg wyn of aftreksel by en roer dikwels. Voeg gekapte neute by. Skep vleis in geskikte bak.
Meng konfyt en suurlemoensap en smeer oor die bobotie. Rangskik piesangskywe bo-op en bedek met eier- en melkmengsel.
Laat effens insak of set voordat dit tot mooi bruin en styf gebak word.