10
Fri, Jan

Ethnic
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Ok, ok - ons weet, dit is Desember en dit is feitlik elke dag vrekwarm - veral as die wolkies besig is om saam te pak vir hopelik 'n laatmiddag-donderstorm. Daarom nee, Desember is seker nie die beste tyd van die jaar om 'n potjie te maak nie. Maar gesien in die lig daarvan dat Desember die feestyd is en dat mense in vakansiehuise, karavaanparke, kampeerterreine, damme, by gouesand-strande dikwels rondom die vuurmaakplek gaan kuier, kan ons nie anders nie.Meeste van die tyd is hierdie byeenkomste "gewigtig" (baie mense) en daar is baie monde wat gevoer moet word. So ja, wat 'n beter manier om baie mense heerlik te laat smul as om 'n tradisionele potjie aan te slaan? Vir dié takie het ons gaan aanklop by Bernard Janse van Rensburg - 'n man wat gewis weet hoe om 'n potjie te maak. 
Bernard is by die "oord" waar hy in diens is die "spysenieringsbestuurder". Hy is trouens al jare lank 'n kosmaker van formaat - Bernard deel met ons die spreekwoordelike "koning van potjies" - beesstert (hoe dan nou anders?).
Bernard moet op sy twee hande tel hoeveel keer hy nou al met hierdie beesstertresep selfs vooraanstaande potjiekoskompetisies gewen het. Hy word hier bygestaan deur sy seun Adriaan - 'n jonge man met 'n gesonde aptyt moet ons bieg... Ons het die afgelope naweek die voorreg gehad om saam met Bernard en Adriaan om 'n vuur te sit waar ons aan tuisgebakte brood en 'n "ongeskikte" lekker potjie weggelê het - toevallig 'n skitterende kombinasie!
Ons het die Sondag nadat ons al van die rugby vergeet het, steeds van die potjie gepraat - moet tog nou nie hierdie jaar op vakansie gaan sonder om hierdie wonderlike resep van Bernard in te pak nie, daar is nogal 'n groot verskil tussen 'n potjie en 'n POTJIE!

Jy maak so:

Braai 3 tot 5 mediumgrootte uie lekker bruin. Haal uit en hou eenkant, braai die beesstert lekker bruin, geur net met sout , peper, braaispeserye, (ek gebruik 'n worsmengsel van my eie).
Gooi dan 'n halwe koppie Plofberg-brandewyn by en flamboneer vleis daarmee. Gooi water by en kook tot heerlik sag - dit behoort so 2 tot 3 ure te neem.
Gooi nou jou wortels en klein aartappels by. Nog 30 minute kan jy die res van jou groente ook byvoeg.
Probeer om al die bestanddele min of meer dieselfde grootte te hou sodat dit teen dieselfde tyd gaar en sag is.
Meng nou jou soppoeier met ingedampte melk en voeg 2 blokkies vleis-ekstrak by en gooi oor. Ek meng dan ook gelyke dele Worchestershiresous, Mayonnaise, tamatiesous en blatjang en voeg dit by so 20 minute voor jy beplan om op te skep.

Ons het lekker geëet met varsgebakte boerebrood -
stampmielies en koring of rys werk ook goed!