20
Mon, May

Festive Meals
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Wel mense, die jaar is op sy rug en vandag oor presies ‘n week is dit tyd vir Kersvader om sy swaar sak oor sy skouer te gooi en kinderharte regoor die wêreld te verbly. As jy en jou familie vanjaar moontlik die takbokke en slee in die stad gaan misloop en tussen die wildsbokke in die bosveld gaan ontspan, is hier net die regte Kersfeespoeding vir bosveldaande om die kampvuur. Dit is nou as die maaltye daar rondom die vuur nie meestal uit vleis, vleis en vleis bestaan nie. Gelukkig is daar darem altyd ‘n klompie vroue wat sal toesien dat die manne hulle nie aan die bosveldsteaks vergryp nie.
Vandeesweek se Bosveldpoeding kom van Lezané van den Berg en dit is ‘n maklik een wat jy sommer so vinnig op die vuur aanslaan terwyl die koffiewater al kook. Baie gepas vir dié tipe vakansie, is die poeding hoegenaamd nie ingewikkeld nie en jy het skaars meer as ‘n blikkie ingelegte perskes, ‘n stukkie lekker sjokolade en ‘n pakkie lekkergoed nodig. Lezané maak haar bosveldpoeding soos volg:

Bosveldpoeding op die kampvuur.

Bestanddele
1 blikkie ingelegte perskes en/of pere - ‘n groot blik as daar baie mense is; 
‘n Klompie Cadbury Flakes - of meer as jy baie gaste het;
1 Pakkie regte malvalekkers - “marshmellows”
‘n Bekertjie lekker tuisgemaakte vla

Metode
Skeur langwerpige stukkies tinfoelie net groot genoeg om ‘n perske-helfte met ‘n malvalekker bo-op soos ‘n Kersfees-klapper toe te draai. Plaas nou ‘n perske-helfte in elke stukkie tinfoelie, sit ‘n malvalekker bo-op in die holte en breek jou Cadbury Flake in kleinerige stukkies en strooi mildelik oor die perske en malvalekker. Jy kan sommer ‘n paar stukkies gewone sjokolade ook byvoeg as jy lus het vir ‘n bietjie oordadigheid.

Draai dan die pakkies soos ‘n kersfeesklapper mooi toe en plaas in ‘n groot pot of kastrol bo-op die kole wat darem nog taamlik warm moet wees. As jy nog ‘n mooi skoon rooster het, kan jy die kersfeesklappers sommer direk bo-op die rooster oor die kole sit. Onthou met tinfoelie - die blinkste kant kom binne anders gaan jy sukkel om die spulletjie mooi warm en veral aan die smelt te kry.

Afhangende van hoe warm jou kole is, kan jy dit vir enigiets tussen 10 tot 20 minute op die kole los.

As dit gereed is en die sjokolade het goed gesmelt is dit feestyd - haal af en laat elkeen vir hom ‘n “|klapper” uit die pot kies. Die beste van alles is dat jy nie eers poedingbakkies nodig het nie. Gee net vir elke gas ‘n lepeltjie - jy maak jou klapper oop en eet jou poedingkie sommer so uit die tinfoelie maar nie voordat jy ‘n ruim sopie vla oor die poeding gegooi het nie. Baie lekker en net so onopgesmuk soos ‘n mens in die bosveld sou doen!