20
Mon, May

Festive Meals
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Nouja, kyk net waar trek die jaar en vir die meeste van julle is die jaarlikse kersete seker al iets van die verlede en is dit nog net “Stompie en Oortjies” wat weglê aan al die lekker beentjies? Wel - as die groot “dag” eintlik vanaand of later in die week is, het jy as “Kersmoeder” nog tyd om hierdie spoggerige kersete van Pam van Rensburg - Presidente van die VLU se Platina-streek - voor te sit. Pam het ingestem om vir ons ‘n feestelike kersete voor te berei en sy het self die aand met ‘n tafel vol gaste gesit wat tot laataand oor die vreugdes van kersfees gesels en gekuier het.
Nou kyk - Pam is nie ‘n vrou wat doekies omdraai nie - as sy “kook” - dan kook sy en sy het hier vir ons ‘n vyf/sesgang-maaltyd voorgesit wat tot jou skoonma se mond sal laat water. Ons behandel hier slegs Pam se Stokvisvoorgereg, die Turcaden-skywe as hoofgereg, heerlike aartappelkoekies en baie interessante en oorspronklike groenbone-nessies vir ‘n bietjie ekstra kleur op jou kerstafel. Pam maak dit alles so:

Stokvisvoorgereg: 
1 ½ kg Stokvis goed gaargemaak in water met bietjie sout.
½ k tamatiesous
¼ k kondensmelk
3 uie gerasper
10 Agurkies fyngekap
1 ½ k Mayonnaise
Sout en peper
Sap van 1 suurlemoen
Blaarslaai
Forel roulade

Metode:
Vlok gaar vis en roer al die bestanddele goed by. Snipper blaarslaai en skep lepels vol vis bo-op. Versier met wiele forel-roulade en ‘n rooi snoep-uitjie.

Turcaden-skywe 
1 “Kalkoen/eend/hoender” ontbeende rol (Checkers)
Olyfolie
2 uie in skywe gesny
Sout/peper/geurmiddels na smaak

Metode:
Plaas die vleis in ‘n kasserol nadat met olyfolie gesmeer is.
Laat vir halfuur in oond en bak by 160 °C.
Draai om en plaas uieskywe bo-oor.
Sout en peper en geurmiddels word nou na smaak bygevoeg.
Bak stadig vir nog een en ‘n half uur. Draai gereeld.
Die eendvet bak uit en moet bo-oor die rol gedrup word.
Laat heeltemal afkoel in yskas en sny in mooi skywe (elektriese mes is die beste)
Pak uit op opskepbord, drup nog eendvetjies oor en verhit dan voor gebruik.
Versier met vars of ingemaakte perskeskywe asook klein tamatietjies.
Skep twee lepels tuisgemaakte appelkoosblatjang langs die vleis in die eetbord, en geniet.

Aartappelkoekies: 
3 k rou aartappels, geskil en grof gerasper
2 klein uie grof gerasper
4 e koekmeelblom
1 t bakpoeier
2 eiers geklits
Sout en peper
Mosterd en knoffel opsioneel
Kookolie
Handdoekpapier

Metode:
Roer al die bestanddele baie goed bymekaar. Gooi genoeg olie in ‘n braaipan en laat baie warm word. Skep lepelsvol en braai tot goudbruin. Dreineer op handdoekpapier. Bedien met spriet-uitjies.

Groenbone-nessies
2 k gaar groenbone (gemaak met aartappel, uie, sout/peper en botter)
1 pakkie repiespek
Fetakaas

Metode:
Voer muffin bakpannetjies uit met repies spek.
Skep die gaar groenbone in die nessies.
Bak by 180°C tot spek gaar is.
Versier met blokkies fetakaas en geniet.