20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja kyk, die winter kom vinnig nader en dit is sekerlik hoog tyd dat Rustenburgers hulself ‘n bietjie instudeer soos die mense sê in die maak van eg Italiaanse of sommer net “Suid-Afrikaanse” pasta as jy nie vol eksotiese vieterjasies is nie. Maar laat ons eers verduidelik hoe ons by hierdie “kook” uitgekom het. Skoonsus vertel van ‘n bekende (en mooie) dame in Rustenburgse skoonheidskringe – iemand wat in hare spesialiseer. Juanita du Plessis (nie, nie daai een nie…) is nie net tweetalig nie, maar ook “tweehandig”. Met ander woorde – sy het twee “regterhande”, of nee, ons bedoel twee “linkerhande”, of nee, ag toemaar, los dit maar… Wat ons eintlik probeer sê is dat sy ewe bedrewe met die haardroeër en borsel in albei hande is, of in enige van die twee hande is… of, ag nee, hier gaan ons al weer... Met die gevolg dat sy albei kante van die kop kan blaas, borsel, kam en krul terwyl sy voor en agter jou staan of as jy dan nou wil, dat sy die voor en agterkant van die kop kan blaas, kam en krul terwyl sy links of regs van jou staan. Ja, dit is omtrent raak opgesom (sjoe, hyg……) 
Elk geval, dit het vir skoonsus laat wonder hoe bedrewe Juanita dalk agter ‘n oond/stoof kan wees as sy hier in die salon so kan raakvat. Ons het ons nie twee keer laat nooi nie en kuier vandag in Juanita se kombuis terwyl sy en haar twee oulike meisiekinders vir ons Alfredo (‘n eg Italiaanse pastagereg) maak. Uiteindelik het ons so lekker met die meisiekinders, die kat en die vet varkie in die erf agter die plaashuis gesels en gespeel dat ons skoon vergeet het om vir Juanita dop te hou om te sien hoeveel keer sy met die linker- of die regterhand in die kastrolle woeker. Maar ja, die pasta smaak vorentoe met of sonder ‘n broodjie en Juanita sê sy het ook ‘n einde-van-die-maand-weergawe (nee, nie net die broodjie nie…)

Bestanddele
400g Tagliatelle (pasta)
500g ham;
1 pak sampioene
1 eetlepel olyfolie;
500ml room;
4 eetlepels koekmeel;
4 eetlepels Parmasaan en –pestospeserye;
4 country, garlic en herb-speserye;
Aromat na smaak;
Parmasaankaas;

Metode
Kook Tagliatelle tot gaar. Sny die ham in blokkies en braai in pot met olyfolie. Sny sampioene kleiner en voeg by die ham. Strooi 2 eetlepels van elke spesery oor en braai saam.

Sous
Gooi room in ‘n pot, voeg Aromat, botter en die res van die speserye by na smaak. Prut tot botter begin smelt en klits dan gelydelik koekmeel by tot dit begin verdik. Voeg ham en sampioene by en roer saam. Skep pasta in en skep die sous ruimskoots bo-oor. Strooi ‘n skeppie Parmasaankaas bo-oor en geniet!