20
Mon, May

Pasta
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Van al die geregte in die wêreld is daar sekerlik nie een wat soveel verskillende variasies het as die immergewilde pasta-gereg nie. Of is daar? Nou dat ek daaraan dink, ek dink die slim mense wat die wêreld se resepte- en kookboeke skryf het dalk nog nie heeltemal van Suid-Afrikaanse potjie gehoor nie. Hierdie is nou letterlik 'n gereg waarvan daar sommer in Suid-Afrika al reeds 'n rits "internasionale variasies" bestaan. Elke kultuur het maar sy eie manier van kosmaak en ja, hier is seker nie 'n gereg wat elke dag deur soveel verskillende mense geëet word nie.
Maar pasta kom beslis naby - net soos potjie "kom" pasta ook in eindelose variasies en elke ou maak sy pasta op sy eie "unieke" manier. En wie se pasta kan nou lekkerder wees as daardie geheime resep wat vroulief of jyself sommer 'n paar keer elke maand uit die kop "haal"? Maar mense leer by mekaar en op dié manier word jou "eie" pasta eintlik al hoe beter. Daarom dat die Rotary-mense in vandeesweek se uitgawe hul pastagereg "Plagiaat-pasta" gedoop het. Dit beteken dat hulle tot op hede by voorslag-kokke afgekyk het en 'n hele paar idees en gedagtes ryker geword het.

En natuurlik staan dit jou vry om dieselfde te doen. Manny Winterbach, 'n oud-Rustenburger (amper 'n legende in die Platinastad moet ons seker byvoeg?) en iemand wat vanjaar sy 32ste jaar in Rustenburg Rotary vier, span saam met twee vroulike kollegas - Ansonette Fourie en Yolande Breytenbach om vir ons 'n maklike, dog heerlike potjie pasta te maak en benewens die geheime wat hulle hier deel, 'n klompie van jou eie in te span. As jy nog altyd pasta wou maak maar nog nooit heeltemal die kloutjie by die oor kon bring nie, is hierdie jou kans.

Plagiaat pasta (neem die oorspronklike resep en maak dit jou eie)
Bestanddele en metode 
Braai uie (soveel as wat jy wil)
Braai soetrissie (rooi en groen)
Braai sampioene
Kook pasta. (500g) – Macaroni (pasop vir te veel kook en onthou ‘n knippie sout)
Braai 1 x pakkie hoendergeur Weense worsies - so 12 van hulle behoort genoeg te wees - sny in stukkies/blokkies en voeg by

Kies enige 2 pakkies KNORR-sousies van jou keuse en maak dit aan met melk (volg instruksies op pakkie)
Voeg 3 eetlepels lekker blatjang by.
Roer alles saam en whala...
‘n Ander ou se pasta met ‘n twist van jou eie by. Maak die lewe interessant - improviseer!