20
Mon, May

Platters
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In die gejaagde wêreld waarin ons vandag leef, maak dit tog net sin dat groot etes by kleiner, minder formele gesellighede by die dag besig is om ‘n skaarser gewoonte te word en dat benewens die tyd- en koste-faktor – dit seker maar goed is om net ‘n vinnig happie of wat te eet wanneer ‘n mens eintlik meestal met werk of ander belangstellings besig is. In elk geval, vir die meeste mense is daar nie ‘n verskoning nodig om liewer die groot, swaarder borde kos vir ‘n verandering opsy te skuif en wanneer die geleentheid reg is en jy dalk ook met ‘n heerlike glasie wyn in die hand staan, aan ‘n “platter” met ‘n lekker groot wye verskydenheid “lekkernye” te peusel nie. Ons het al by ‘n geleentheid vroeër vir ons lesers ‘n platter voorgesit maar so met die nuus dat Clover (ja, die kaasmakers van faam) nou ook ‘n verspreidingspunt in Rustenburg het, het ons met Chantel Muller van Clover Rustenburg gekonkel om vir ons ‘n lekker “kaas-platter” voor te berei. (Terloops – meer besonderhede oor Clover se nuwe verspreidingstak in Rustenburg sal binnekort in die Herald verskyn – hou ons dop!) Chantel maak vir ons ‘n skinkbord met ‘n heerlike paar vingerhappies waarin kaas natuurlik ‘n belangrike rol speel. Een van die eerste happies op die “skinkbord” is pannekoekies:

Pannekoekies:
Bestanddele
250ml bruismeel;
1 eier;
2 teelepels olie;
500 ml water;
250 ml Clover room;
Knippie sout en peper;
1 pakkie swartpepersous.

Metode:
Klits al die pannekoekbestanddele saam. – bruismeel, knippie sout, eier, olie en water. Bak die pannekoekies. Laat afkoel. Gooi room in kastrol en verhit totdat dit redelik warm is. NB – NIE kook nie! Voeg die pakkie kitssous by en klits met “ballonklitser” om klonte te voorkom todat sous egalig begin verdik. Haal van stoof af en laat afkoel. Neem pannekoek en smeer die sous egalig oor. Strooi gerasperde kaas bo-oor. Rol die pannekoek op en sny in 5cm-ringetjes. Rangskik saam met ander bestanddele op platter.

Worsies
Bestanddele  
10 Cheese grillers (worsies);
1 pakkie Streaky bacon;
Tandestokkies;
Kookolie vir diepbraai.

Metode
Sny elke kaarsworsie middeldeur. Sny stukkies streaky bacon in helfte. Draai helfte van die bacon om elke halwe worsie. Steek met tandestokkie vas. Bring olie tot kookpunt. Diepbraai elke worsie. Haal uit olie en laat afkoel – voeg by platter.

Roosterbroodjies
Bestanddele
10 snytjies wit brood. 451 g gegeurde roomkaas;
200 g fyn-gekerfde biltong;
Optioneel: Sweet chillie of blatjang;

Metode;
Maak 10 snye roosterbroodjies; Laat afkoel. Sny geroosterde broodjie in 3 langwerpige repe. Smeer elke repie met gegeurde roomkaas. Gooi gekerde biltong bo-oor. ‘n Sousie byvoorbeeld blatjang of pepersous kan oor die broodjie gegooi word. Voeg by platter.

Peppadews
Bestanddele
400 g botteltjie mild soet heel pitlose peppadews;
100 g gerasperde Mozarella-kaas;
100 g gegeurde roomkaas;
Kookolie vir diepbraai;
1 eier;
Knippie sout en peper;
100 g broodkrummels.

Metode
Meng gerasperde Mozarella en roomkaas. Vul die pitlose peppadews met vulsel. (Maak seker alle pitte is verwyder). Klits die eiers en voeg sout en peper by. Doop peppadews met vulsel in die eier. Rol in broodkrummels. Gooi olie in mediumkastrol en bring die olie tot kookpunt. Diepbraai peppadews met krummels tot ligbruin. Haal uit en plaas op servet om oormaat olie te absorbeer. Laat afkoel – voeg by platter.

Nou kan jy jou platter met al sy bestanddele mooi netjies rangskik en ‘n oomblik laat “rus” voordat jy dit bedien – bon appétit!