31
Mon, Mar

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRI-PULSE – BRITS – Sy is nie net ‘n toegewyde vrou, ma en ouma nie, Ita Viljoen is ‘n entrepreneur, motiveringsspreker en ‘n dinamiese lid van Brits Vroue Landbou-unie en vir háár hande staan niks verkeerd nie.
Wanneer sy nie saam met haar man in hulle konstruksiebesigheid werk of besig is om die kinders en kleinkinders te “bederf” nie, is sy ‘n bobaasbakster en ‘n kok van formaat.
“Ek kook na eie smaak en meestal skep ek my eie geregte. Ek hou nie daarvan om my aan ‘n resep te bind nie,” sê Ita, wie se flambojante persoonlikheid duidelik in haar soet kortrib stowe-gereg weerspieël word. 
Gedagtig aan die reënerige weer die afgelope tyd wat mens mos altyd na ‘n warm gereg laat hunker, het Ita spesiaal vir AgriPulse haar eie soet kortrib stowe-gereg gemaak.

“Ek het kortrib gekies omdat dit ‘n bekostigbare, tog smaaklike vleissnit is. Die groentekombinasie is gekies vir kleur, variasie en natuurlik die eindproduk - want ons eet mos eerste met die oë,” skerts sy.

Soet kortrib stowe-gereg
Bestanddele:
1.5kg Kortrib in blokke gesny
Sjerrie na smaak
1x pakkie Sweet & Sticky marinade (aangemaak volgens instruksies op pakkie)
‘n Halwe suurlemoen se sap
Potjiekos-speserye na smaak
Sout en growwe peper na smaak
Groen uie-geursel na smaak
Knoffel na smaak
Twee blokkies groente-aftreksel
en ‘n pakkie (ongeveer 300g) van elk van die volgende groente:
Drie tot vier uie (gebraai)
Sampioene
Babawortels
Baba-aartappels
Brusselse spruite
Murgpampoentjies
 
Metode
Marineer die vleis in sjerrie, Sweet & Sticky marinade, die sap van ‘n halwe suurlemoen, potjiekos-speserye, sout, growwe peper, knoffel en ander speserye en gebraaide uie in ‘n kleibak. Bak met deksel vir ‘n halfuur teen 180ºC.
Haal uit oond en roer die vleis deur. Pak die groente op die bed van vleis. Voeg die groente-aftreksel en nog speserye na smaak by.
Plaas deksel terug en bak vir nog ‘n halfuur tot groente sag is.
Bedien saam met saggekookte stampmielies.