20
Mon, May

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Daar is min dinge só eg Suid-Afrikaans soos ‘n ‘bunny chow’. Die ikoniese gereg is, volgens dié wat weet, geskep in die strate van Durban waar ‘Banias’ - Indiër straatkosverkopers – plan moes maak omdat hul nie wegneemete-houers kon bekostig nie. 

Só het hulle toe begin om brood uit te hol, en hul geurige kerriebredie daarin te bedien. Maar, wees gewaarsku, ‘n bunny chow is nie die gereg om te kies as jy net ‘n ou effense hol kolletjie op die maag het nie; o nee, dié kalorie-intensiewe dis is vir wanneer jy behoorlik honger is. Dis nie ‘n ingewikkelde gereg nie – die grootste besluit wat jy gaan moet neem, is of jy beesvleis, lamsvleis, hoender of net groente gaan gebruik.

Dié week kuier die TambotieKombuis by Jan Herholdt van Rustenburg. Jan het vir 22 jaar in ‘The Last British Outpost’ (KZN) gewoon en het daar langs die Natalse strande ‘n groot liefde vir dié geurige gereg ontwikkel. Toe hy ‘n paar jare gelede hier in die stad kom nesskop, het hy onmiddellik besef dat hy self plan gaan moet maak indien hy so nou en dan aan een van sy gunsteling kosse sal wil smul.  Toe, uit pure Kerrie-belustigheid, begin Jan eksperimenteer en vóila, vandag kan Jan sy staatmaker ‘bunny chow’- resep met ons lesers deel.

Bestanddele:

1,5kg Beesskenkelvleis, blokkies gesny
Olie om te braai
3-4 Aartappels, blokkies gesny
Rooi, groen en geel Soetrissies, gesnipper
1 tlp fyn Gemmer
1 ½ tlp Paprika
2 tlp Knoffelpasta
3 eetl Kerriepoeier (Jan koop sy mengsel by ‘n speserywinkel in Heystekstraat)
1 groot Ui, gekerf
2 medium Tamaties, blokkies gesny
1 eetl Appelkooskonfyt
250g Sampioene, gekerf
1 ½ koppie beesaftreksel, of water
Sout en peper na smaak

Metode:

Meng kerrie en appelkooskonfyt tot ‘n gladde pasta.
Braai uie, speserye en kerriepasta saam. Voeg vleis by en verbruin.
Voeg nou groente by, asook jou vleisaftreksel/water.
Kook vir 40 minute en voeg gesnipperde sampioene by.
Kook vir ‘n verdere 20 minute.
Haal van die hitte af en laat rus vir ‘n paar minute.
Sny intussen ‘n witbrood in kwarte en hol uit.Skep ruim porsies van jou kerriebredie in die holtes. Jy kan die gereg opdien saam met ‘n fyngekerfde tamatie-en-uie slaai, indien verkies. Voeg ‘n handjievol vars koljanderblare by vir ekstra geur.