20
Mon, May

Lamb
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

In hierdie laaste van drie aflewerings oor die kook- en geniet-kuiertjie in die lekker knus plaaskombuis van Corlia Vosloo, wys Corlia vandag vir ons hoe sy die lekkerste-lekker, bros en krakerige skaapkaiings maak.
Ja ons weet, kaiings is tradisioneel klein happies brosgebraaide varkvleis, maar enigiemand sal saamstem dat hierdie skaapkaiings net so heerlik, indien nie beter is – veral omdat dit ‘n ietsie is wat so ‘n klein bietjie meer (om die uitdrukking hier so toepaslik as moontlik te gebruik) “vleis aan die been het…” Corlia het ons bederf met sommer ‘n groot bak vol van dié skaapkaiings en ons het haar “welkom-matjie” by die voordeur omtrent tot stof getrap voordat ons ons ry gekry het. Daar is geen twyfel dat Corlia ‘n meester in die kombuis is nie en hierdie is een van haar gunstelinge. 
Nouja, probeer gerus die koninklike happie al is dit maar beskeie skaap – kan jy jou indink hoe vet- en oliebedrup prins Charles se bloedrooi Pommiebaadjie sou wees as hy die voorreg kon hê om aan so heerlike “skaaptjoppie” weg te val?

Heerlik saam met pap en sous, ‘n egte smulhappie net so koud uit die yskas! En jy het nie eers ‘n formele resep nodig nie.

Maak eenvoudig so:

Stel die oond op 180°. Sny skaaprib of/en lieslap in smal stukkies. Hoe meer vet aan die rib of skaaplies is, hoe beter!
(Spoel altyd alle vleis eers af in asynwater – gebruik ‘n skottel water met ‘n skeutjie bruin asyn by. Plaas vleis in vergiettes vir oortollige asynwater om af te drup.) Plaas repies vleis in oondpan.
Sprinkel suurlemoensap oor. Draai growwe sout en swart peper liggies oor. Nie te veel nie. Sprinkel Robertsons se Steak en Chops speserye oor.
Nou vir die ‘geheim’ : sprinkel kwistig Robertsons se “Portuguese Chicken” oor, veral oor die vet- gedeeltes. Plaas in die oond sonder bedekking. Sodra daar heelwat vet uitgebraai het, gooi die vet af en plaas terug in die oond.
Wanneer lekker bruin gebraai, gooi weer die olie af en draai elke stukkie vleis om. Herhaal speserye soos bo en plaas terug in die oond.
Gooi weer vet af...

Proe of daar nog sout of Portuguese Chicken-speserye kort en voeg by indien nodig.
Onthou - moenie dat die kaiings brand nie, dit moet net lekker bros gebraai wees.
Die ander belangrike geheim van hierdie resep is om gedurig die olie af te gooi anders gaan jou skaapkaiings nie lekker bros braai nie.

Laat effens afkoel en geniet of bêre in yskas tot later en geniet warm of koud!