08
Wed, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Ja, nou is dit sonder twyfel die begin van die feestyd en in baie huise en families begin ons voorslagkokke en onthalers om die spyskaarte noukeurig op te stel vir daardie spesiale klompie dae wanneer die hele familie en al die kroos bykemaar is. In hierdie tyd is dit vir mense regoor die wêreld tradisie om saam te eet en fees te vier soos mense deur eeue heen gedoen het. Terwyl daar mense is wat so bevoorreg is dat hulle geen koste hoef te ontsien om letterlik die beste voetjie (of is dit boudjie of ribbetjie?) voor te sit nie, is Suid-Afrikaners deesdae maar al te deeglik bewus van die stygende lewenskoste. Daar is werklik geen rede om oorboord te gaan as jy wil of moet onthaal nie en as jy 'n bietjie verbeelding gebruik, kan enige watertandmaaltyd steeds ekonomies wees.

Ons het vir Ansie Naudé - sekerlik een van Rustenburg se bekendste persoonlikhede in die spysenierskringe en die akkommodasiebedryf - gevra wat sy byvoorbeeld op Kersdag vir haar familie sou voorsit. Baie gepas het Ansie geantwoord - "kom kyk Sondag - ons hou 'n familie-ete" (voordat die helfte van die familie vir 'n heerlike vakansie na letterlik die anderkant van die wêreld vertrek).
"Ek hou baie daarvan om sommer "gewone" boerekos te maak - dit is mos maar soos die meeste van ons grootgemaak is en jy sal heel moontlik by twee uit elke drie mense hoor dat boerekos in elk geval die lekkerste is. Veral "soos ma dit gemaak het..." Vir Sondag se familie-ete het Ansie se spyskaart soos volg daar uitgesien:

Hoenderpastei
Skaapboud
Pampoenkoekies
Baba-aartappels
Rys & slaai
Malvapoeding met vla en roomys.

Vir mense wat in dié vakansieseisoen maklik, smaaklik, ekonomies en vullend wil kos maak, is dit 'n goeie idee om iets soos 'n hoenderpastei te oorweeg. Ansie se resep vir 'n heerlike hoenderpastei, lyk so:

Bestanddele:

2 gaar hoenders
500 ml hoenderaftreksel ( die sous waarin hoenders gaargemaak is)
250 gm gekerfde sampioene
2 uie opgekap
34 eetl sago
hoender speserye
1 pakkie roomhoendersop.
rolletjie pasteideeg (ontvries)

Metode:

Maak hoenders gaar in oond en hou die sous vir aftreksel. Ontbeen die gaar hoenders en kook intussen sago tot deurskynend in dubbelkastrol in hoenderaftreksel. Braai uie en sampioene. Wanneer alles gaar is, gooi bymekaar en meng. Gooi in pasteibak. Rol pasteideeg oop en bedek hoender in die bak – druk gaatjies met vurk in deeg en druk paar heel naeltjies in deeg. Smeer geklitste eier met kwassie oor deeg dat die pastei mooi kan verbruin.

Bak by 180°C vir omtrent 30 minute - laat effe afkoel en bedien of bêre vir later... Jou hoenderpastei is ook maklik (en blyk lekker) wanneer jy dit vries... Plak die eenvoudige resep aan die binnekant van die karavaandeur of tentflap of nog beter - maak 'n paar daarvan vooruit, vries en neem saam op vakansie...