09
Thu, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

As 'n "groterige" stad het Rustenburg vir jare al meer as genoeg restaurante en formele of informele eetplekke waar mense (al is dit net vir die etensuur) hul gejaagde roetines kan ontvlug en vir 'n verandering 'n ander spyskaart as dié by die huis onder oë kan kry. As daar een enkele pluspuntjie is van die resessie-agtige ekonomie van die afgelope paar jaar, is dit die inisiatief wat in mense na vore gekom het om gedaante te gee aan die sake-gestaltes wat elkeen van ons seker maar op een of ander manier het. Raasblaar
Lodge is 'n heerlike luilekker-kuierlekker restaurant, kuierplek en gastehuis sowat 25 km vanaf Rustenburg waarvan jy 'n prominente aantekening moet maak vir wanneer die "wanderlust" jou weer beetpak. As jy links of regs draai op die Kromrivier-pad net anderkant die ou Wigwam, is dit na 400 m aan jou linkerkant. Met ons eerste kuiertjie daar verlede week, het ons sommer 'n klompie bekende Rustenburgers raakgeloop wat sommer op gereelde basis uit hul gebaande Rustenburgse weë wegbreek om hier in 'n hartlike Bosveld-atmosfeer te kom ontspan. 

Clarence en Amanda Rossouw is hier aan die stuur van 'n egte familie-onderneming wat almal handjie bysit om veel meer as die pot aan die kook te hou.
Maar een ding is seker - Raasblaar se mense weet hoe om heerlike kos te maak en jy gaan nie 'n pyn op die maag kry wanneer jou rekening kom nie. (Vra vir Clarence hoekom jy vir "Kallie" op die uitkyk moet wees...). 
Rustenburg Herald se "raak die 'klits' kwyt" is op heerlike "Chicken Schnitzel" getrakteer - een van die gunstelinge by Raasblaar waar daar 'n groot verskeidenheid op die spyskaart is.
Jy kan ons glo - jy sal bly wees as jy die gesin, of vir "ma" vir 'n heerlike ete en 'n kuiertjie gebring het. As jy laatslaap, bring "ma" dalk vir jou... 
Maar ja, kuier is een ding en kosmaak 'n ander - Clarence en sy chefs het hul geheime vir 'n lekker Schnitzel met ons gedeel as jy dit hierdie naweek dalk tuis wil probeer of wil wag tot Boet of Sus van die kollege af huis toe kom voordat julle volgende keer Raasblaar toe gaan. 

Geurige "Chicken Schnitzel" 
(4 porsies)

Jy benodig: 

4 Schnitzels 
4 repies spek (bacon)
500 ml Raasblaar-kaassous
Cheddar-kaas
Feta-kaas

Raasblaar-kaassous
1/3 koppie botter
1/3 koppie koekmeel
1/2 teelepel sout
1/4 teelepel peper
knippie neutmuskaat
1 eetlepel brandewyn (opsioneel)

Smelt botter oor matige hitte. Roer meel by en roer goed deur. Voeg melk bietjie-vir-bietjie by en roer deurentyd. Voeg kaas by en kook saggies vir 5 minute. 

Chicken Schnitzel
4 hoenderborsies
500 g broodkrummels
500 g koekmeel
sout en peper
4 eiers

Kap hoenderborsies tot lekker dun met vleishamer. Geur na smaak met sout en peper. Rol in eier en dan in koekmeel. Rol dan weer in eier en dan in die broodkrummels. Laat oornag in yskas. Diepbraai in olie tot goudbruin. Pak in lagies soos volg: Hoender Schnitzel, Raasblaarsous, spek, kaas, Raasblaar-sous, en krummel laastens Feta-kaas bo-oor. Bedien warm met 'n slaai of bykos van jou keuse. Lekker broodslaai en kaas soos by Raasblaar of sommer eenvoudige aartappelslaai werk uitstekend. 
Raasblaar is ook goed bekend vir hul buffet-etes op Sondae (12:00 tot 15:00) - hoe klink twee vleisdisse, vyf groentes en geurige nagereg teen slegs R85 p/p. Besprekings is nie nodig nie tensy julle 'n baie groot groep is. 
Ander spesialiteite is Eisbein - R95, die hoender Schnitzel wat ons bestel het (R89) en as jy sommer net lus het vir 'n drankie en 'n kuiertjie met dalk 'n eetdingetjie tussen-in - 'n GROOT Raasblaar-burger teen R75. Ons kan Raasblaar met vrymoedigheid aanbeveel - op Saterdag 5 Augustus, tree Clive Bruce by Raasblaar op. Hoekom bespreek jy nie nou al vir jou 'n tafel nie? Skakel Raasblaar by 076 566 4803 of 076 789 9852.