09
Thu, Jan

Poultry
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Dit moet seker lekker wees om in ‘n skoonheidsalon te werk? Dink net aan elke dag se wonderwerke soos deesdae se sogenaamde “make-overs” wat jy in omtrent elke tweede tydskrif of TV-program raakloop. G’n mens kan tog anders as om goed te voel oor jouself as ‘n vaal, moë en moedelose vroutjie die een oomblik jou salon binnekom net om ‘n uur of twee later as ‘n beeldskone, gesofistikeerde dame by die deur uit te trippel nie... So ‘n bietjie “raakvat” hier en daar, die hare so ietwat deurmekaar woel en dan weer mooi “regskuif”, ‘n lekker ontspannende gesigbehandeling en dan net die regte tikkie grimering deur iemand wat presies weet hoe – dit maak darem maar ‘n reuse verskil aan ‘n vrou se voorkoms nie waar nie?

Of wel, dit is wat ons meen min of meer in ‘n skoonheidsalon gebeur, dalk verloop die storie heeltemal anders. Uiteindelik sien ons mans tog maar net die resultate en verreweg die meeste hiervan is aremrowend, of wat sê ons manne?

Nog iets wat ons die afgelope week of wat (of eintlik al lankal) geleer het, is dat ons vrouens se hande vir niks verkeerd staan nie. Vandeesweek se “kookspan” – Salon Lindie K – is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. By Salon Lindie K (vernoem van Suzette se sussie Lindie Kleingeld wat ses jaar gelede tragies oorlede is) maak Suzette Nortjé, Remo Brander en Kotie Viljoen vir ons absoluut heerlike “Chicken a la Salon Lindie K!
Suzette-hulle maak dit so:

Bestanddele
2 eetlepels olyfolie; 
1 gekapte ui;
1 teelepel gekneusde knoffel;
1 gekapte rooirissie;
250g gekapte spek (bacon);
1 bakkie gesnyde sampioene;
4 hoenderborsies in happiegrootte stukkies gekap/gesny;
‘n Halwe pakkie “Cream of Chicken” soppoeier;
250ml room;
250ml melk;
1 blikkie “chick peas” (keker-ertjies) gespoel en dreineer;
‘n halfkoppie gerasperde Cheddar-kaas;
‘n Halwe (groot) pak Kaas en Uie-skyfies (chips) fyn gebreek;
1 groterige hopie Paprika;
Sout en peper na smaak;

Metode
Braai die uie en knoffel in olyfolie tot deursigtig. Voeg die hoenderstukkies by en roerbraai – so ook die bacon en sampioene en roerbraai. Voeg die hoendersoppoeier by en vermeng stadig met die res van die bestanddele, voeg ook die roommengesel by en meng. Voeg die melk by en roer tot dit ligweg borrel. Voeg die Paprika by.

Nou die sout en peper na smaak, voeg dan die keker-ertjies by en plaas in ‘n gesmeerde oondvaste bak of skottel. Meng die skyfies en gerasperde kaas en sprinkel bo-oor die hoendermengsel. Bedek met foelie en bak in die oond vir nagenoeg 30 minute teen 180 °C. Verwyder die foelie en laat effens bruin word voor dit uit die oond verwyder word.

Salon Lindie K se “Chicken” is “skrikwekkend” lekker en moet beslis sterk aanbeveel word – die ding is net, as ons dames (en mans) eers hierdie happie gesmaak het sal dit ongetwyfeld in groot, vet letters teen die yskas geplak word en sekerlik meer as een keer gemaak word en ja, dan twyfel ‘n mens of ‘n skoonheidsalon voldoende is om die resultate om die heupe ongedaan te maak…